Vuurwapensaak teen Malema lank uitgestel

Julius Malema in die getuiebank. (Foto: EFF/Twitter)

Die saak teen die EFF-leier, Julius Malema, en sy lyfwag en medebeskuldigde, Adriaan Snyman, sal eers later vanjaar hervat word.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, sê landdros Twanette Olivier het in die streekshof in Oos-Londen beslis dat die saak eers op 11 September voortgesit sal word. Die saak is tot 14 September op die hofrol geplaas.

Malema en Snyman staan tans tereg op die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer.

Die uitstel kom kort nadat Malema daarop aangedring het dat Olivier haar aan die saak onttrek. Malema het vandeesweek tydens ʼn uitbarsting in die hof beweer dat Olivier hom en Snyman nie onpartydig behandel nie. Olivier het intussen aangedui dat sy haar nie aan die saak gaan onttrek nie omdat sy binne die wet as landdros opgetree het.

Malema en Snyman staan tans in die Oos-Londense streekshof tereg op grond van ʼn klag wat deur AfriForum aanhangig gemaak is.

Hierdie klag is ingedien nadat ʼn video na vore gekom het waarin dit voorkom dat Malema ʼn vuurwapen in die openbaar afvuur. Die video hou verband met ʼn voorval op 28 Julie 2018 by die Sisa Dukashe-stadion in Oos-Londen toe ʼn vuurwapen afgevuur is tydens die viering van die EFF se vyfde verjaardag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.