Vuurwapenwetgewing geen ‘wondermiddel’ teen misdaad – studie

(Argieffoto: Max Kleinen)

Die sogenaamde Wits-verslag, wat handel oor die uitwerking van die Wet op Vuurwapenbeheer, wat reeds in 2015 gedoen is en sedertdien oënskynlik geheim gehou is, is eindelik vrygestel.

Die verslag is saamgestel in opdrag van die burgerlike sekretariaat van die polisie, wat nou ook die dryfveer agter die wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer is. Indien die wysigings deurgevoer word, sal dit onder meer beteken dat selfverdediging as rede vir die besit van ʼn vuurwapen wegval.

Die SafeCitizen-veldtog het Maandag gesê die bekendmaking van die verslag is goedgekeur nadat sy regspan ʼn finale kennisgewing daaroor aan die sekretariaat gestuur het.

Die Wits-verslag is nou al geruime tyd in raaiselagtigheid gehul, veral omdat sekere data daaruit etlike jare gelede aangehaal is deur ʼn anti-vuurwapendrukgroep. Dit is selfs as verwysing in regsgedinge gebruik, sê Jonathan Deal, nasionale koördineerder van SafeCitizen.

“Dit is steeds ʼn raaisel hoe ʼn anti-vuurwapengroep geprivilegeerde toegang jare voor enigiemand anders tot die Wits-verslag gehad het en hoe dit eers tot op die drumpel van ʼn regsgeding moes vorder voor [ander se] toegang tot die verslag verseker is,” sê Deal.

“Dalk sal ons nooit die waarheid weet nie.”

Die bekendmaking van die verslag kom te midde van ʼn storm wat woed oor die voorgestelde wysigings, met talle drukgroepe, individue en organisasies wat daarteen gekant is. Daar is boonop minder as twee weke oor om insette oor die voorgestelde wysigings te lewer.

Die verslag deur Wits se Skool vir Regeerkunde, genaamd “Analysis of the Effect of the Firearms Control Act on Crime 2000-2014”, is opgestel om die uitwerking van die wetgewing op misdaadsyfers te ontleed. Aanbevelings uit die navorsing sou dan gebruik word om wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer te rig.

Die polisie se misdaadsyfers tussen 2000 en 2014 is van voor af ontleed en vergelyk geweldsvlakke voor die inwerkingstelling van die wet, tot ʼn dekade ná die aanvang daarvan.

Gevolgtrekkings

Die navorsers kom luidens die verslag tot die gevolgtrekking dat die Wet op Vuurwapenbeheer van toepassing is op minder as 5% van alle misdaad wat by die polisie aangemeld word. Dié misdade is wel gewelddadig en op uiters hoë vlakke.

“In die algemeen het die misdaadkoers in hierdie breë groepe afgeneem aan die einde van ʼn dekade sedert die aanvang van die Wet op Vuurwapenbeheer in 2004-’05. Hierdie afname kan egter nie aan die wetgewing toegeskryf word nie,” lui die bevindings.

Die navorsers het eerstens gekyk na die inwerkingstelling van die wetgewing, en tweedens na die teenwoordigheid van sterk polisiëring om misdaad te verminder.

Die twee voorwaardes skep dan vier tydsraamwerke:

  • Die tydperk voor die inwerkingstelling van die wet (2001-’01 en 2003-’04) terwyl matige polisiëring gedoen is.
  • Die tweede tydperk is die vierjaartydperk sedert die inwerkingstelling van die wet, met soortgelyke vlakke van polisiëring.
  • Die derde is die driejaartydperk van intensiewe polisiëring en groot besteding voor die sokkerkonfederasiebeker en Wêreldbekersokkertoernooi voor en na 2010.
  • Die vierde tydperk is tydens die vermindering van streng polisiëring.

Die navorsers het bevind indien die wetgewing doeltreffend was om vuurwapenverwante misdaad te verminder, sou verwag kon word dat misdaadvlakke die hoogste sou wees voor die inwerkingstelling van die wet, dat dit sou verminder in die tweede tydperk (toe die wet ingestel is), en oor die volgende twee tydperke ʼn voorgesette daling sou ondervind.

Dié neiging sou na verwagting voortduur, ongeag of daar streng polisiëring toegepas word of nie.

Indien ʼn sterk polisieteenwoordigheid – eerder as die wetgewing – egter lei tot ʼn afname in misdaadvlakke, sou misdaadvlakke tydens die Wêreldbekersokkertoernooi die meeste gedaal en daarna weer toegeneem het.

Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat die “vlak van sterk polisiëring, eerder as die Wet op Vuurwapenbeheer, ʼn noodsaaklike voorwaarde is vir die vermindering van vuurwapenverwante misdaad. Die wetgewing is nie genoeg om vuurwapenverwante misdaad in die afwesigheid van sterk polisiëring te verminder nie.”

Keuse om wapen te gebruik vs. misdaad afhanklik van vuurwapen

Die navorsers het bevind in die tydperk 2008-’09 tot 2010-’11 – voor en na die Wêreldbekersokkertoernooi – het die vlakke en persentasie van die gebruik van vuurwapens in misdade soos moord, poging tot moord en huisroof in die teenwoordigheid van sterk polisiëring afgeneem.

Die persentasie voorvalle waar vuurwapens steeds gebruik is – soos kapings, transitorooftogte, bankrooftogte en ander rooftogte – het in dieselfde tydperk egter nié gedaal nie.

“In hierdie misdade is vuurwapens omtrent altyd gebruik en dit het nie afgeneem wanneer die vlakke van die misdaad weens streng polisiëring gedaal het nie,” lui die verslag.

Die navorsers het gevolglik die kategorie vir vuurwapenverwante misdade verdeel in misdaad waar ʼn keuse uitgeoefen word om ʼn vuurwapen te gebruik, en ʼn misdaad wat van ʼn vuurwapen afhanklik is om gepleeg te word.

“Vuurwapen-afhanklike misdade is nie vatbaar vir die wetgewing nie omdat die gebruik van vuurwapens voortgesit word, selfs al daal die vlakke weens streng polisiëring.”

Die navorsers kom ook tot die gevolgtrekking dat streng polisiëring ʼn vereiste is om laer vlakke van vuurwapengebruik te verseker.

Hulle het bevind hoewel die regering die wetgewing beskou as ʼn “wondermiddel” vir die beheer van misdaad, wys die navorsing dat vuurwapens nie in die meerderheid van misdade – wanneer misdadigers ʼn keuse uitoefen daaroor – gebruik word nie.

Vuurwapens is nasionaal net in die helfte van moorde (2011-’12) gebruik. Selfs al was die wetgewing dus doeltreffend om misdaad te pak, sou dit nie die twee-derdes van moorde waar ʼn ander moordwapen gebruik is, getakel het nie.

“Die wetgewing kan ten beste net ʼn gedeeltelike oplossing wees vir geweldsmisdaad omdat dit versuim om die wapens wat in die meeste misdade gebruik word, te pak.

“Gegewe dat skerp voorwerpe gereeld in moorde en ander vuurwapenkeuse-misdaad gebruik word, moet daar erkenning wees dat geweldsmisdaad nie sinoniem is met vuurwapens nie …” lui die bevinding.

Die navorsers stel voor dat ander wetgewing gebruik word polisiëring te verbeter.

Hulle het boonop die bevindings van twee ander studies – wat beweer dat die strenger vuurwapenbeheer wat weens die vuurwapenwetgewing veroorsaak is en tot ʼn afname in moorde gelei het – verwerp.

SafeCitizen sê deur pro-vuurwapenbelanghebbendes jare lank toegang tot die dokument te weier, het ʼn uitwerking gehad op hul vermoë om die ontwikkeling van die 2016-Witskrif oor Veiligheid en Sekuriteit te verstaan en het gevolglik ook ʼn uitwerking gehad op begrip van die navorsing, gevolgtrekkings en voorstelle oor die voorgestelde wysigings.

Die organisasie sê hy gaan die dokument behoorlik bestudeer en dit Maandag met die sekretariaat bespreek.

Kortliks uit die verslag:

  • Geweldsmisdaad waar vuurwapens betrokke is, is nie noodwendig afhanklik van vuurwapens nie.
  • Misdaad daal in die teenwoordigheid van sterk polisiëring.
  • Die wetgewing het geen uitwerking op sommige geweldsmisdaad nie.
  • Die wetgewing het ʼn uitwerking op minder as 5% van misdaad wat by die polisie aangemeld word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Die anc kommuniste is een groot grap nes die land van hulle se regstelsel.

wimpie

n “wondermiddel” teen misdaad ………. vehoog die die kiesings proses om n SAP lid teword so tedoende om die regte persoon vir die werk tekry en ook die korupsie testop en belangrikste hou op dat die SAP kriminele se voete moet soen (die ander spreukwoord mag ongelukkig nie gebruik word nie)

Tipper

Studies en navorsing , twak,sien hulle nie op sosiale media wat aangaan nie.

VaalDonkie

Ek was mos ‘n slag met ‘n vuurwapen aangehou. ‘n Z88. Die Z88 is spesiaal in dat dit die pistool is wat die SAPS gebruik.

Persheks Adri

Misdaad neem nie af nie inteendeel raak dit erger en gaan nóg erger raak!!! Die kriminele is nie eers bang vir die uniforms nie hulle roof hulle dan. Uniforms verloor wapens en ammunisie en kan ons nie beskerm nie regtig!

Hierdie wet mag nié deur gaan nié punt. Ons sal NIE ontwapen word NIE verstaan ons mooi.