Vuurwarm stryd oor voorbereide kos woed voort

(Foto: pixabay)

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het oënskynlik ter elfder ure ingegryp om haar eweknie by handel en nywerheid te red van ʼn hofsaak oor die verkoop van warm en voorafbereide kos.

Dean Macpherson, die DA se woordvoerder oor handel en nywerheid, het Maandag gesê Dlamini-Zuma het inderhaas die afsonderingsregulasies aangepas waarin die verkoop van voorafbereide kos uitdruklik verbied word. Dié wysiging is in Maandag se Staatskoerant gepubliseer.

Volgens Macpherson was minister Ebrahim Patel in ʼn enorme openbare verleentheid nadat hy op 16 April – voordat die nuwe regulasies afgekondig is – gesê het die verkoop van klaargemaakte kos word verbied.

“Dit was duidelik onregmatig en Patel moes op sy kabinetskollega staatmaak om sy regsnagmerrie uit die weg te ruim.”

Die DA was gereed om die Pretoriase hooggeregshof te nader om Patel se opmerkings onregmatig te verklaar en vir ʼn persoonlike kostebevel teen hom te vra.

“Vandag se wysiging maak wat eens onwettig was [die opmerkings], nou wettig en is kortsigtig en gemeen, veral vir gesondheidswerkers op die voorste linies, vir diegene wat ʼn veiligheidsdiens lewer, noodsaaklike diensverskaffers en vervoerwerkers soos vragmotorbestuurders wat staat maak op voorafbereide maaltye om hul werk te doen,” het Macpherson gesê.

(Argieffoto: pixabay)

Die DA het ook gesê die besluit is ʼn groot terugslag vir bejaardes wat nie meer in staat is om hul eie kos voor te berei nie.

DA-leier John Steenhuisen wou vandag ook weet wat die definisie van “warm” is en of daar ʼn verskil tussen koel, warm en brand is. “Kan dit betrekking hê op koue, warm kerrie?” het hy gevra.

“Wanneer jy op ʼn onbenullige manier begin reguleer eindig dit gewoonlik nie goed nie en alle welwillendheid verdwyn,” het Steenhuisen op Twitter gesê.

Die organisasie Helpende Hand het Maandag ook skerp kritiek uitgespreek teen die verbod. Dr. Elsha Hermann, ’n maatskaplike werker van Helpende Hand, het gesê talle bejaardes is afhanklik van afgelewerde voorbereide etes en die minister het hulle die afgelope week in ’n krisis gedompel.

Klaar gaar, voorbereide etes is ’n noodsaaklike diens wat volgens Helpende Hand steeds aan gemeenskappe voorsien moet word. “Indien hierdie diens opgeskort word, staan ons die kans dat talle mense nie weens die Covid-19-pandemie nie, maar weens ’n tekort aan voedsel kan sterf,” het sy gesê.

Die organisasie Sakeliga het Patel ook die afgelope naweek gevra om ʼn onderneming te gee dat hy sy uitsprake oor die produksie en verkoop van “voorbereide”, “warm” en “gekookte” kos terugtrek. Indien hy dit nie doen nie, sou Sakeliga hom tot die hof wend.

(Argieffoto)

Daniël du Plessis, ʼn regsontleder vir Sakeliga, het Maandag gesê Patel het die naweek gevra vir uitstel om terugvoer te gee én die organisasie na ʼn vergadering genooi waar besin sou word oor kreatiewe oplossings vir die kwessie.

“Intussen het hulle die nuwe regulasies afgevaardig en ons is bietjie teleurgestel dat die regering só opgetree het,” het Du Plessis gesê.

Volgens hom glo Sakeliga die regulasies is irrasioneel en dra nie by tot die voorkoming van Covid-19 nie. Koue, gaargemaakte kos kan verkoop word, maar nie warm kos nie.

Hy het bygevoeg dit is ook strydig met voorstelle soos dié deur die Wêreldgesondheidsorganisasie dat restaurante wegneemetes bedien en mense so aangemoedig word om minder tyd in supermarkte te spandeer.

“Daar moet ʼn rasionaal vir die regulasies wees. Ons is tans besig om regsadvies in te win en moet nog besluit of ons voortgaan met die regsaksie.”

Aldus Du Plessis het hulle klagtes van byvoorbeeld die eienaars van biltongwinkels gekry dat hulle gedwing word om hul deure tydens die afsonderingstydperk te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Jaco ·

klaar gekookte kos wat dan verkoop word, is BAIE duurder as die rou bestanddele. ek wonder of diegene wat so graag klaar gekookte kos wil verkoop, weet dat hulle bitter daarvan gaan verkoop. mense is nou te arm om nog sulke luukses ook te kan bekostig.

Boortor ·

Dit is bedoel vir mense wat nie kan kos maak nie. Soos bejaardes, siek mense by die huis ens.

Alexz ·

Jaco, stem saam dat kêffie kos duur is. Onthou dat daar ook ñ hele industrie bestaan wat gebalanseerde maaltye voorberei, en afgelewer word teen pryse wat BAIE bekostigbaar is. As ek al die bestanddele ‘rou’ moet koop om gelyk te berei soos my voedsel leweransier, sal dit my minstens driedubbel kos (verkryging en bereidings kostes ingereken). Om hierdie rede stem ek nie met jou saam nie.

Boklam ·

Pap, sous en een of ander vleis sal altyd gewild en redelik goedkoop bly vir armes. Behalwe nou by winkels waar dit volgens gewig verkoop word soos Spar.

AH ·

Ek stem nie saam met jou nie Jaco. As mens oordeelkundig by ‘n supermark se Deli gaar kos koop, kan jy minder vir ‘n bord kos betaal as wat jy dit self kan maak as jy enkellopend is. Wie kan deesdae bekostig om bv. ‘n lamsboud te koop en gaar te maak plus die groentes en bykosse, terwyl jy maklik ‘n paar skyfies vleis en twee of drie bykosse kan koop vir ‘n bekostigbare bedrag. Baie minderbevoorregtes koop bv vleispasteietjies om sodoende ‘n bietjie vleis te kan inkry, al is dit net vir die smaak van die vleis. Vir baie mense is gaar kos ‘n noodsaaklikheid.

Vriendelike Frikkie ·

Weereens ‘n geval waar die linkerhand nie weet wat die linkerhand doen nie.

Jacobus ·

Het die mense nog nooit van voedsel vergiftiging gehoor nie. Stomgeslaan ongelooflik . En ons betaal hulle astronomiese salarisse. Wil lag, huil, vloek in een asem.
Haal af as dit te erg klink. Die waarheid het mos geen plek in die samelewing. Dis ‘n sirkus – net nie snaaks nie.

Kosie ·

Daar is niks rasioneel aan die besluite nie, jy mag nie met jou hond loop nie, maar jy kan inkopies doen… Hierdie hele virus storie lyk vir my al hoe meer na ‘n klug, met die doel om ons te beheer. Dit voel vir my of ek onder huisarres is, dit sonder ‘n verhoor of aanklag en skielik word my vryhede een vir een weg gevat, maar hoekom presies?

Die getal sterftes regverdig glad nie die drakoniese beheer wat op ons uitgevoer word nie. Ons hoor nou al weke die vreesredes: “Die sterftes gaan volgende week erg toeneem!”. Nou wanneer begin dit dan? Gaan ons wag tot die hele land afgebrand is en niemand meer werk het, voor ons die president en sy kornuite se histerie begin wantrou?

Johanncb ·

Ek vermoed dit gaan nie soseer om die gaar kos nie, maar om die personeel wat die kos moet voorberei!

Fedup ·

Oh patel. Gang up with your anc cronies. Hope all of you sleep well at night. No worry in the world. Please, do remember the big wheel that turn each second of each day.

Hans ·

Ons Woolies verkoop pasteie en hoenders, gaar en warm en ek oorleef nog daarvan,??? Regering soos gewoonlik… Irrasioneel

Anel ·

Wat dan van brood en koeke en koekies en beskuit wat by die winkels verkoop word wst nie deur hulle gemask word nie. Wat is die verskil?

Boortor ·

Hulle volgende stap gaan wees om jou te verbied om kos en koekies by jou huis te maak want jy moet die bestandele by die winkel gaan koop en daar gaan jy die gogga optel!

Willem ·

Sirkus net baie dankbaar daai zuma vrou het nie president geword nie

Marthinus Johannes ·

Party mense dink ook nie, ja stem saam sat kos gemaak en afgelewer deur Restaurante is duur en heel moontlik n poging om te red wat daar te redde is maar daar is ander plekke soos Spar wat ook klaar voirbereide kos verkoop het wat nie te duur was nie. Nou mag hulle nie eers meer vis en chips, of vieennas en chips verkoop nie. Hoekom word ook net sekere klaar voirbereide kos verbied, die plekke verkoop nog steeds koeke wat ook maar klaar voorbereide kos is. ” BROOD IS OOK MAAR KLAAR VOORBEREIDE KOS”

Martie Smartie ·

Dis tyd dat die DA/ Solidariteit dringend alle irrasionele regulasies hof toe vat. Hierdie regering maak nes hulle wil sonder rasionele gronde in baie gevalle, herinner baie aan die Zuma era.

Boklam ·

Het hulle gesien wie staan in die rye by die bereide kosrye en wat word gekoop? Genade tog, die meeste handewerkers wat n bolletjie pap, spinasie of pampoen en n klein stukkie hoender koop. Ons plaaslike supermark verkoop pap, sous en stukkie wors vir R10. Bedelaars, straatbewoners en armes staan tou vir so maaltyd. Hierdie mense kan skaars die bakkie kos bekostig, wat nog die bestandele en geriewe om dit self gaar te maak. Iemand moet Mnr Patel n slag gaan wys wat gaan gaan by so supermark se kos rye aan dat hy kan wakker word.

Elise Georgina Irene ·

Kan eenvoudig nie verstaan waarom gekookte kos verbied word nie. Dis lagbaar en laakbaar maar eintlik hartseer. Soveel van ons wil net ‘n slaaitjie saam met ‘n gebraaide hoender aangeskaf. Nou moet mens self maak: elektrisiteit, ekstra tyd om te ry en aan te skaf en miskien vries tot gebruik. Ag dis strooi man. Wat van geprosesseerde vleise, kase, room, lekkers – als deur kookproses. Die dierbare dig regering kannie dink nie. Dis tyd hul word uitgestem maar diegene wat meeste ly tans sal hul weer instem! Ongelooflik…:

Genis ·

Maar dis reg as hulle vir die massas by skole sop en ander kerrie kos gee???

Roebs ·

Ons is geraak deur dit want my verloofde werk in die kitskos bedryf en ons huishouding word daardeur geraak… Baie mense kan hulle werk kwyt raak deur dit..

Willem ·

Waarom is die slaagsyfer op skool 30%. Sodat die ministers ook kan versaan. Patel se nou die mense drom saam by die warm toonbank daarom die besluit

Die Wolf ·

Ai ek verlang tog so na my Vis en chips by die vis winkel wat ek so rojaal ondersteun. Lekker weskus vis en skyfies met vars kalamarie ook..

Willem ·

Sien nou op News 24 daai zuma vrou seas hul warm kos verkoop kan die inperking maar gelos word. Die mense sal stroom na die plekke wat dit verkoop
Hul moet nou besluit wat die rede is op die verbod. Lagwekkend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.