ʼn Kaptein van ʼn Boeing 737-vragvliegtuig en sy medevlieër het die gemeenskap aan die kopkrap nadat hulle ʼn vermeende vreemde vlieënde voorwerp (VVV) Maandagaand naby Jeffreysbaai in die Oos-Kaap opgemerk en aangemeld het.
Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), was die vragvliegtuig omstreeks 21:30 van die Kaapstadse Internasionale Lughawe onderweg na die Port Elizabeth-lughawe toe hulle ʼn “groenerige” voorwerp vanuit die kajuit opgemerk en by die lugverkeerbeheersentrum by die Port Elizabeth-lughawe aangemeld het.
Lambinon het gesê die voorval het ongeveer 10 seemyl oor die see buite Jeffreysbaai plaasgevind teen ʼn hoogte van 3 000 voet (1 000 meter).
“Hulle het aangemeld dat die voorwerp, wat groen voorgekom het, verby die kajuit in hoogte toegeneem het. Die voorwerp het sowat 1 000 voet (300 meter) bo hulle in die wolke bereik voordat dit teen ʼn hoë spoed terug grond toe is,” het Lambinon gesê.
Die NSRI in Port-Elizabeth is deur die beheersentrum versoek om op die uitkyk te wees vir ʼn vliegtuig of vaartuig wat moontlik in die moeilikheid kon wees.
Bemanning van die NSRI in Jeffreysbaai is daarvan in kennis gestel en het die gebied die hele aand gefynkam. Die groen voorwerp is egter nie weer opgemerk nie en geen vliegtuig of vaartuig is as vermis aangemeld nie. Tot dusver is daar ook niemand in die omgewing as vermis aangemeld nie.
“Daar is aanvanklik gedink dat die voorwerp dalk ʼn groen 1 000 voet-valskermfakkel was, maar dit is onwaarskynlik omdat dié fakkels nie hoogtes bo 300 meter kan bereik nie. Geen verdere berigte of waarnemings is intussen van die voorwerp ontvang nie en die voorval bly ʼn raaisel.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
28 Kommentare
Dis dalk Zuma se familie wat hom kom haal.
Ek glo daar is lewe op ander plekke in die heelal. Baie mense het al daaroor berig en dit selfs gefotografeer. Soms het sommer baie mense vvv’s gelyktydig waargeneem. Gelukig lyk dit of die “marsmanne” skaam is en nie wil aandag trek nie….. (Ek sou ook maar skaam wees as as ek soos hulle gelyk het!). Ons hoop net nie hulle is in die stilligheid agter ons mooie planeet aarde aan nie……
Hul gesien dit is SA toe draai hul maar om
n Soortgelyke voorwerp is laas Dinsdag, 6 Desember, deur my Pa oor Klerksdorp gesien. Volgens n ander webblad is dieselfde voorwerp 30min later in Langebaan gesien. omtrent 1000km weg.
As hy weer kom spuit hom met Doom . . .