VW, Toyota kraai koning met motorverkope wat begin herstel  

(Foto: Verskaf)

Nuwe voertuigverkope maak ʼn groot deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie uit.

Daar is sewe groot aanlegte in Suid-Afrika waar voertuie gebou word en daar word na talle markte wêreldwyd uitgevoer. Dié aanlegte behoort aan Isuzu, Volkswagen, Mercedes-Benz, Toyota, Nissan, BMW en Ford. Die motorbedryf is ook ʼn groot werkskepper in Suid-Afrika.

Die mark vir passasiervoertuie het van Januarie tot April vanjaar met 20,3% verstewig in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Dit is onder meer as gevolg van die streng inperking wat einde Maart verlede jaar ingestel is en geen voertuie wat gevolglik in April 2020 verkoop is nie.

Verkope van ligte handelsvoertuie, wat bakkies en minibusse insluit, het met 46,9% toegeneem in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Verkope van mediumhandel- en swaarhandelsvoertuie, soos busse en vragmotors, het met onderskeidelik 19,1% en ʼn fantastiese 51% toegeneem. Dié syfers is egter effens uit verband getrek deur verlede jaar se streng inperking.

Die jongste syfers beteken egter nie dat dit ʼn puik jaar vir motorverkope gaan wees nie. Dit is nie as gevolg van enige van die vervaardigers wat op hul louere rus nie, maar die wêreldwye tekort aan halfgeleier-mikroskyfies.

(Foto: Toyota)

Dit is die tweedehandsevoertuigmark wat tans sy spiere bult. Die aanvraag is meer as die aanbod in dié stadium en dit stoot inruilpryse op. Die handelaarsnetwerk baat ook aangesien daar nie noodwendig onderhandel word oor pryse nie weens die hoeveelheid mense wat tou staan om motors te koop te midde van die tekort.

In die passasiersegment het Volkswagen in April die sterkste gestaan met 5 697 plaaslike verkope, gevolg deur Toyota met 3 885 en dán Hyundai met 2 344. Suzuki lê vierde met 2 170 eenhede gevolg deur Renault met 1 423.

Toyota het met ʼn reuse-aandeel in die ligtehandelsvoertuigsement weggestap met 4 745 eenhede gevolg deur Ford met 1 766. Isuzu is kort op hul hakke in derde plek met 1 406 eenhede en laastens Nissan met 1 319 plaaslike verkope. Met uitvoere het Ford die beste gevaar met 5 937 eenhede teenoor Toyota se 2 640.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Shady ·

Net die mense wat nie n Hilux kan bekostig nie se dit is “overrated”

tweeling ·

Stem, jy sal nie maklik van die skaap trop mentaliteit ontslae raak nie

Wielspore ·

Is baie dankbaar om te sien voertuig verkope is besig om kop op te tel, dit is ‘n aanduiding dat die ekonomie besig is om te herstel. Verbruikers is gelukkig om uit so ‘n groot verskeidenheid modelle en vervaardigers te kan kies. Met die samewerking tussen Volkswagen en Ford gaan daar nog meer voertuie uitgevoer word wat ook weer buitelandse kapitaal gaan inbring. Na my mening gaan hierdie ooreenkoms die nuwe Amarok in ‘n goedkoper prysklas vir die SA verbruiker geplaas word. Lekker ry!

akkedismis ·

Hilux is nie overrated nie,n Persoon wat dit sê het nog NOOIT 1 besit nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.