Vyf aangekeer oor Normandien-plaasmoorde

Glen en Vida Rafferty (Foto: Facebook)

Vyf persone word tans ondervra in verband met die moord op die bekende egpaar Glen en Vida Rafferty op hul plaas in die omgewing van Normandien naby Newcastle in KwaZulu-Natal.

Kapt. Attie Engelbrecht, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die persone word tans ondervra, maar dit is nog nie bekend of hulle aangekla sal word nie. Hulle moontlike betrokkenheid by die saak moet nog eers bepaal word.

Maroela Media het vroeër berig Siyabonga Goodman Macu (29) is vroeër aangekla van die dubbelmoord op Glen (63) en sy vrou, Vida (60). Hy het tydens ʼn vorige hofverskyning sy aansoek om borgtog laat vaar. Hy bly in aanhouding totdat hy op 29 Oktober weer in die hof moet verskyn. Macu staan tereg op twee aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede asook sameswering om te roof.

Die Rafferty-egpaar se liggame is op 30 Augustus vroegoggend buite hul plaashuis aangetref. Hulle is die vorige aand koelbloedig doodgeskiet nadat hulle van Newcastle tuisgekom het. Een van hul honde is ook tydens die aanval doodgeskiet.

Die aanvallers het vroeër die veiligheidskameras buite die huis buite werking gestel.

‘n Reuse-optog is gereël ná die moord op Glen en Vida Rafferty. (Foto: Verskaf)

Talle lede van die publiek het die eerste naweek van September, tydens ʼn roudiens vir die  Rafferty’s, met ’n optog teen plaasaanvalle en -moorde hulde aan Glen en Vida gebring. Die gemeenskap het terselfdertyd in Newcastle saamgetrek waar hulle eers deur die dorp se strate gery het voordat hulle ’n roete verby die egpaar se plaas, sowat 50 km buite Newcastle, tot terug in dié dorp gery het.

Sowat ’n duisend wit kruise is vir etlike kilometer op dié roete weerskante van die pad aangebring. ’n Groot banier is aan die einde van die roete oor die pad aangebring met die woorde: “President Ramaphosa, hoeveel meer moet nog sterf?”

’n Stoet van sowat 2 000 voertuie, vragmotors, trekkers en stropers het ure lank buffer aan buffer op dié roete gery as deel van die optog teen plaasaanvalle en -moorde en as ʼn huldeblyk aan die Rafferty’s. Vliegtuie en helikopters is ook ingespan vir die optog wat die gemeenskap gereël het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henro ·

N antwoord op daardie tweede foto met die banier “Ramaposa hoeveel moet dood”. Sy antwoord is almal, maar betaal asb nosteeds julle belasting.

Johannes Andreas ·

Kul jou hier, kul jou daar, en siedaar, almal uit op R500.00 borgtog. Laaste sien van die blik kantien.
Perdalks weer stuk-stuk voor die hof. Oor 5 jaar. Indien hulle opgespoor kan word. Indien die dossier nie wegraak nie. Indien die NVG ooit besluit om te vervolg. Indien die saak nie uitgegooi word weens swak ondersoek werk nie. Indien die EFF nie eis vir die staking van vervolging van die arme verdrukte siele nie. Indien die Piesang Republiek se ekonomiese groei tot 3% styg binne die volgende jaar. Indien iemand in ons regstelsel lus voel om te werk. Indien die Paashaas….bla, bla, bla.
Welkom in RSA, die grap van die moderne wêreld.

Cecilia ·

Aan Kapt Engelbreght (goeie vriend v my). Alle sterkte met d saak . Ek het volle vertroue jy sal d skuldiges aan d pen laat ry. Aan d familie vd egpaar. Sterkte en weet met Kapt Engelbreght aan jul kant gaan geregtigheid geskiet!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.