Vyf babas sterf in KZN-hospitaal

Argieffoto

Argieffoto

Die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid het ontken dat ʼn bakteriële infeksie die oorsaak was vir die dood van vyf babas by ʼn hospitaal in Durban.

Die babas se dood by die Inkosi Albert Luthuli-hospitaal het Donderdag aan die lig gekom tydens ʼn sitting van die KwaZulu-Natalse wetgewer toe dr. Imran Keeka, die DA se woordvoerder van gesondheid, beweer het dat die babas dood is weens ʼn uitbraak van die Klebsiella-bakterie.

Keeka het geëis dat Sibongiseni Dhlomo, LUR vir gesondheid in die provinsie, onmiddellik stappe moet doen om die uitbraak onder beheer te bring. Die departement het egter in ʼn verklaring gesê die sterftesyfer by die neonatale eenheid van die hospitaal is nie hoër as normaal nie.

Volgens die departement is die vyf babas in April en Mei vanjaar dood en hoewel hulle met die bakterieë besmet was, was dit nie “die primêre oorsaak van hul dood nie”. Die departement het gesê elke sterfte is afsonderlik ondersoek en dat die neonatale eenheid vir 10 dae gesluit was terwyl streng infeksiebeheermaatreëls toegepas is.

Volgens die departement is daar van Maart tot Augustus 377 babas in die hospitaal se neonatale eenheid opgeneem. Altesaam 38 babas is in daardie tydperk dood, onder wie die vyf wat met die bakterieë besmet was.

“Die aantal infeksies is verminder. Daar was nie ’n toename in die sterftesyfer in die tydperk nie. Die eenheid funksioneer tans optimaal sonder enige verdere beduidende toename in weerstandige organismes,” het die departement gesê.

Keeka het gesê hy glo die hospitaal se bestuur en die hoof van die neonatale eenheid probeer die uitbraak toesmeer.

In 2005 is 22 babas by die Mahatma Ghandi-gedenkhospitaal dood ná ’n uitbraak van die Klebsiella-bakterie. ʼn Ondersoek het bepaal dat die uitbraak plaasgevind het weens onbehoorlike infeksiebeheermaatreëls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Griki ·

Hulle stry alewig. Dalk kon die babas nog gelewe het as hulle nie besmet was nie. Waarom nie net ophou stry en beter beheer toepas nie. Dis nie ‘n eerste geval van Klebsiella in hierdie hospitaal nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.