Vyf babas sterf in Welkom-hospitaal

Argieffoto

Argieffoto

Vyf babas wat in die Bongani-hospitaal in Welkom in die Vrystaat gesterf het, is moontlik dood weens besmetting met die Klebsiella-bakterie, het die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde Saterdag gesê.

“Die waarskynlike oorsaak is Klebsiella, het die organisasie in ʼn verklaring gesê. “ʼn Span is tans op pad na die hospitaal om ten volle ondersoek in te stel.”

Die organisasie is ʼn statutêre liggaam wat nakoming aan gesondheidstandaarde monitor en afdwing. Alle gesondheidsorginstellings in die land is verplig om aan die nasionale kernstandaarde te voldoen.

ʼn Span inspekteurs, insluitend twee senior inspekteurs, sal die presiese oorsaak van dood bepaal en watter nodige stappe gedoen moes word.

Bafana Msibi, waarnemende hoof van die organisasie, het namens die voorsitter prof. Lizo Mazwai gesê die organisasie beskou die tragedie in ʼn baie ernstige lig. “ʼn Volledige ondersoek sal deur kenners gedoen word. Dit is baie belangrik dat alle gesondheidsorginstellings aan die nasionale kernstandaarde moet voldoen om seker te maak dat só tragedie hom nie weer herhaal nie,” het hy gesê.

Die Congress of the People (COPE) het egter intussen gesê die hospitaal is al “vir ʼn lang ruk in die nuus vir al die verkeerde redes”. Volgens die party is daar ʼn groot tekort aan personeel. “Mediese toerusting is onvoldoende en daar is gereeld ʼn tekort aan mediese voorraad. Nou hoor ons vyf babas is dood.”

Die party het gesê hy begryp daar word gesê die babas is dood weens die Klebsiella-bakterie.

Die SAUK het ʼn woordvoerder van die hospitaal aangehaal wat gesê het toetse het getoon die vroeggebore babas het almal baie min geweeg en het pulmonêre bloeding gehad. Volgens die SAUk is dit bevestig dat ʼn baba twee weke gelede al aan Klebsiella oorlede is, wat beteken ses babas is al hierdie maand by die hospitaal oorlede.

Cope doen ʼn beroep op dr. Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, om ʼn onafhanklike ondersoek te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

hester ·

Die staatshospitale is so pateties in hulle dienslewering dat dit n skande is vir die hele Gesondheids Departememt. Daar moet opgetree word deur die minister.

Martiens ·

Weereens n tekort aan waardes.
Meeste werkers het geen trots in hul werk. Doen dit bloot om n salaris te kry en heeldag rond te hang en te klets.
Dis hul land Suid Afrika.

CHRISTA ·

Voordat die ANC oorgeneem het, was die mediese sorg wat ons staatshospitale gebied het UITSTEKEND (en dit met die wêreld se sanksies teen ons land)!! Hoekom kon die ANC nie net die standaarde handhaaf nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.