Vyf bakkies tydens “goedbeplande rooftog” gesteel

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Aantal gewapende mans het Woensdag in die vroeë oggendure op ʼn perseel in Rosslyn, Pretoria toegeslaan waar Nissan-bakkies gestoor word, en vyf bakkies gesteel.

Dana Wannenburg, ʼn DA-raadslid in die noorde van Pretoria, het Woensdag aan Maroela Media gesê die polisie vermoed dit was ʼn goedbeplande rooftog. “ʼn Veiligheidswag op die perseel is omstreeks 00:40 deur ʼn onbekende hoeveelheid mans oorval en vasgebind, waarna vyf Nissan NP 200-bakkies gesteel is,” het Wannenburg gesê. Die wag is ongedeerd.

Hy het gesê die voorval is eers Woensdagoggend omstreeks 09:00 by die Akasia-polisiestasie aangemeld.

Volgens Wannenburg stel die polisie ondersoek in oor hoe die rowers die voertuie se sleutels in die hande gekry het, en word kringtelevisiebeeldmateriaal ondersoek om te bepaal of die voertuie op een slag gesteel is, of dalk oor ʼn langer tydperk. “Die polisie en metropolisie was met verskeie misdaadvoorkomingsaksies in die gebied besig, en niemand het iets verdag opgemerk nie,” het hy gesê.

Kaptein Rheineth Motlana, ʼn polisiewoordvoerder, het by navraag aan Maroela Media bevestig dat die polisie ʼn saak van sakeroof ondersoek, en dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie. Sy kon nie meer inligting in die stadium bekend maak nie.

Maroela Media het Nissan SA om kommentaar genader en wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.