Vyf beseer toe Pta-eetplek se dak instort

Die dak wat ingestort het. Foto: Best Care

Die dak wat ingestort het. Foto: Best Care

Vyf mense is Vrydag beseer nadat ʼn gedeelte van die dak van ʼn eetplek by die Total Panorama Petroport op die N1-snelweg, noord van Pretoria, ineengestort het.

Die Tshwane-nooddienste en paramedici van verskeie nooddienste is omstreeks 12:00 na die Steers-kitskosrestaurant, wat oor die N1 strek, ontbied. Die dak by die restaurant se betaalpunt, aan die kant van die snelweg waar die verkeer in ʼn suidelike rigting vloei, het ineengestort.

Volgens Xander Loubser, woordvoerder van Best Care-ambulansdienste, is vyf mense beseer. Geen ernstige beserings is tot dusver aangemeld nie. Drie van die vyf mense is met ambulanse na verskeie hospitale geneem.

Die oorsaak van die ineenstorting is nog nie bekend nie en word ondersoek.

Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het aan Maroela Media bevestig dat vyf mense geringe tot matige beserings opgedoen het en na die Montana-hospitaal geneem is vir verdere behandeling.
Die Tshwane-brandweer het opruimingswerk gedoen.

Mahamba het gesê die N1-suid is vir veiligheidsdoeleindes by die Wallmansthal-afrit vir verkeer gesluit, terwyl toetse op die brug se struktuur gedoen word. “Hierdie gedeelte van die snelweg sal weer vir verkeer geopen word sodra ons kan bevestig die brug hou nie ʼn gevaar vir motoriste in nie.”

Mahamba het gesê die pad kan moontlik tot 15:00 of 16:00 gesluit wees. Verkeer word by die afrit tot op die R101 herlei, waarna motoriste via die N4 weer by die N1 kan aansluit.

Volgens Mahamba ondersoek die polisie die oorsaak van die ineenstorting en sal dit in later bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

André Marais ·

Maroela maak tog net gou Julle Spelling reg Asseblief oner-aan die Berig anders gaan Julle weer (soos altyd) oor die Vingers ge-tik of onophoudelik reg gehelp word – daar waar Julle sê “Benadeling en moes seker wees Behandeling” – Groete.

Stephanie ·

Andre, nou lag ek lekker en sit ook en wag om te kyk hoeveel jou oor die vingers gaan tik vir spelling.
Geneit julle naweek en wees veilig.

Stephanie ·

Nou ja, so sal ek leer!!!
Toe tik ek ook verkeerd.
Sal dalk my skoolgelde moet terug vra.
Julle moet die naweek geniet… nie geneit nie.

Kobus ·

Dagsê Kiepie
Dankie dat jy die fout uitgewys het. Dit is nou reggestel.
Groetnis
Kobus namens Maroela Media

Jef ·

Hoekom warra warra oor spelling en as jy dit nie wil lees nie kyk dan net na die fotos dit se al genoeg, my magtig man haal eers die boom uit jou eie oe voordat jy splinter uit iemand ander se oog haal, maar nie te min n mooi naweek vir jou meneer Marais.

Mariette Hammann ·

Die beriggewers moet daarop gewys word as woorde verkeerd is, anders het dit soms ‘n heeltemal ander betekenis. Mense wat seergekry het moet tog eerder verder behandel word as benadeel word! “Die brug hou ook nie verder gevaar in nie” , maak tog meer sin as om te sê “Die hou brug nie verder gevaar in nie.” Ek is seker die beriggewers waardeer almal se hulp om die foute reg te maak.

Megan ·

Al2 eet plekke wat oor die N1 strek is so verlaate eet plekke.

Ek het nou al by al2 stil gehou en dit was baie vervale. Dit lyk of die eienaar nie die plek instand hou nie. So dit verbaas my glad nie dat dit gebeur het nie.

Annelise ·

Ek is trots op my taal. Ek wil nie spel foute in n afrikaanse koerant sien nie. Dit bring onmiddellik die standaard af. Dis soos swak bouwerk. Op n stadium haal dit jou in…..

Knapie ·

Goeie vraag. En nog n ding wat my bietjie dwars in die krop steek is as berigte verwys na n dak (roof), eerder as n plafon (ceiling). Glo my, die implikasies is soveel groter as dit n dak is wat ineengestort het. In die geval van n dak, sal dit n aanduiding wees van groot struktruele probleme.

Hierdie is n plafon. Ja, die hemel het op iemand se kop geval en hy kon dood gewees het, maar dit maak nie die gebou se struktuur onveilig nie, buiten nou vir die area waar die plafon meegegeee het.

Suzette ·

@Gerd: Vraaaa jy nog? Swak vakmanskap, dis al…………..hehe

Minette ·

Lyk vir my na die dak nie plaffon nie. Daar skyn lig deur.

Buitestaander ·

Dank aan Maroelamedia om die nuus gratis aan ons bring ons waardeer dit opreg. Laat die een sonder foute die eerste klip gooi.

M A ·

Ek sien op Facebook dat die verkeer op die N1 vir kilometers opgehoop het. As die plafon ingeval het, hoekom hou dit die verkeer op? Daar het tog seker nie stukke op die pad geval nie.

Rosemarie ·

Ons het deurgery net voor dit gebeur het en met die terug kom slag het ons dit oor die nuus gehoor. Ons was ‘n hele ent voor die R10 tolhek. Ons het ‘n uur gevat om daardie stukkie te ry. Hulle het die pad toe gemaak want hulle was seker bang die hele plek gaan inmekaar val. Hul het almal deur die ultra city se parkeer area gelei.

johann cb ·

Kyk na die foto van die hele brug soos dit oor die pad gaan – die konstruksie aan die regterkant blyk kwaai gebars te wees. Lyk nie vir my te goed nie!

Dakbouer ·

Kyk na die foto “Toneel binne die restaurant” dan kan daar duidelik gesien word hoe die dak-kappe gebreek het. Die dakteels lê ook binne in die gebou….dis nie net plafon wat geval het nie. Die hele konstruksie het inmekaar geval. Die storie van “lekkende waterpyp” maak ook nie sin nie….’n “lekkende waterpyp” kan nie hierdie tipe skade oornag laat gebeur nie, maar wel oor ‘n lang tydperk. As dit oor ‘n lang tydperk gelêk het, hoekom is dit nie reggemaak nie? Hierdie lyk meer soos ‘n swakplek wat gebreek het, met die opvolgende “domino-effek”. Daardie dak is ook blootgestel aan sterk wind.

Subeth ·

Glo my, dit was chaos – N1 gesluit en alle alternatiewe roetes nag… het 3 ure huis toe gery in plaas van my gewone 20 minute…

Elsje ·

Taxi’s , busse,trokke het vir hulself nog 2 bane gemaak by die oprit na die R101 en die verkeersbeamptes sit op hul kar se enginkap en lag en gesels.

Collin ·

Ek neem aan die ondersoek deur die polisie sal verwys word na gekwalifiseerde profesionele ingenieurs o.a. forensiese engineers met siviele ingenieurs agtergrond asook ander struktuele engineers. Die offisiele verslae sal bevestig wat die oorsaak is en wie verantwoordelik is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.