Vyf beseer toe skote in woonbuurt klap

’n Elfjarige meisie is ernstig in ’n skietvoorval in Claremont beseer. (Argieffoto: ER24)

Vyf mense, onder wie ’n 11-jarige kind, is Maandagaand beseer toe ’n skietery buite ’n huis in die woonbuurt Claremont in Johannesburg uitgebreek het.

Russel Meiring, woordvoerder vir ER24, sê die kind en ’n volwasse man is met nooddienste se aankoms op die toneel ernstig beseer aangetref.

“Nooddienswerkers het die pasiënte se toestand bepaal en bevind dat die meisie en ’n man in ’n ernstige toestand was, terwyl die ander pasiënte matige beserings opgedoen het.

“Die pasiënte wat ernstig beseer was, is van gevorderde lewensondersteuning voorsien voordat hulle na ’n nabygeleë hospitaal vir verdere behandeling geneem is. Die ander pasiënte is met ’n privaat voertuig na die hospitaal geneem,” sê Meiring.

Volgens hom was die kind en die man binne dié huis in Elmastraat toe nooddienswerkers op die toneel aangekom het, terwyl die ander drie mense buite rondgeloop het.

Hy sê die plaaslike polisie was ook op die toneel, maar die omstandighede rakende die voorval is in dié stadium onbekend.

Die polisie het nog nie op Maroela Media se navraag gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vettiemaragartos ·

Kan ons geleerde mnr. Cele dalk vir ons sê hoeveel van hierdie aanvalle word met wettige wapens gedoen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.