Vyf brand dood terwyl vrou, kleuter ontsnap

Brandbestryders is omstreeks 01:30 na die toneel ontbied (Foto: Verskaf)

Vyf mense is dood toe ’n brand Woensdag vroegoggend in ’n huis in Pretoria-Wes uitgebreek het. ’n 45-jarige vrou en driejarige seun was die enigste twee wat betyds kon ontsnap.

Volgens inligting was almal in die huis gesinslede.

Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê die nooddienste is omstreeks 01:30 na die toneel ontbied.

“Met brandbestryders se aankoms op die toneel was die huis heeltemal in vlamme gehul. Dele van die dak het reeds inmekaargestort,” bevestig Mabaso.

Vyf mense het in die brand omgekom (Foto: Verskaf)

“Omstanders het brandbestryders ingelig dat daar vyf mense in die brandende huis vasgekeer is. Die 45-jarige vrou wat betyds uit die huis ontsnap het, het dit ook bevestig.”

Volgens Mabaso het die vrou slegs geringe skrape op haar voorkop opgedoen. Sy en die kleuter is op die toneel vir rookinaseming behandel voordat hulle per ambulans na Pretoria-Wes-hospitaal geneem is.

Dele van die dak het inmekaargestort (Foto: Verskaf)

“Terwyl die brandbestryders die brand geblus het, het hulle op twee liggame afgekom. Die ander drie liggame is gevind nadat die brand geblus is.”

Die jongste slagoffers is ’n sesjarige seun. Die ander slagoffers is drie mans van onderskeidelik 18, 22 en 24 jaar oud en ’n 46-jarige vrou.

Volgens Mabaso word die oorsaak van die brand ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Janine ·

Gebeur so iets, kan mens nie eens by jou venters uit nie. Ons leef mos in tronke!

Skappie ·

So jammer aan die gesins lede wat omgekom het in die brand. Mag onse Liewe Heer saam met julle in hierdie moeilike tyd wees wat vir julle nog voorle.

Brenda ·

Dit is tragies, alles net omdat daar tralie werk voor vensters is, ons lewe in tronke.

Pampoen ·

Watter rol het beurtkrag gespeel? Miskien kerse of parafienlampe gebruik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.