Vyf by huis in Durban doodgeskiet

Nooddienste op die toneel waar die skietery plaasgevind het. (Foto: Rescue Care Paramedics)

Polisiebeamptes en nooddienste is tans op die toneel waar twee volwassenes en drie kinders by ʼn huis in Montclair in Durban doodgeskiet is.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care-paramedici, sê die voorval het vanmiddag in Isleworthlaan gebeur. Paramedici is na die toneel ontbied waar hulle die liggame van vyf mense in ‘n slaapkamer aangetref het. Al vyf het noodlottige skietwonde opgedoen en paramedici kon niks anders doen as om hulle dood te verklaar nie.

Volgens Jamieson is die kinders tussen nege en 17 jaar oud. Daar word verneem die vyf was lede van dieselfde gesin, maar owerhede het dit nog nie bevestig nie. Jamieson sê by paramedici se aankoms op die toneel was daar niemand anders saam met die oorledenes in die huis nie.

Die huis is tans deur die polisie afgesper waar beamptes besig is met hul ondersoek. Geskokte bure het op die toneel gestaan en is deur polisiebeamptes ondervra. Die gebeure wat die skietery voorafgegaan het, is nie tans bekend nie.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, sê ʼn vuurwapen is in die huis aangetref. Zwane wou nie in die stadium veel meer besonderhede bekendmaak nie, maar sê sake van moord is aanhangig gemaak en ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Thomas ·

Arme, arme onskuldige kinders. Dit is baie swaar om te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.