Vyf by motorwassery in Ladysmith doodgeskiet

Uitsig oor Ladysmith in  KwaZulu-Natal Foto: Michael Gundelfinger (eie werk) Creative Commons via Wikimedia Commons

Uitsig oor Ladysmith in KwaZulu-Natal Foto: Michael Gundelfinger (eie werk) Creative Commons via Wikimedia Commons

Vyf persone is Saterdagaand by ʼn motorwassery in Ladysmith doodgeskiet.

“Vyf mans het omstreeks 18:30 by die motorwassery in Ezakheni B-Section gesit toe insittendes van ʼn Toyota Avanza op hulle losgebrand het,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Al vyf is noodlottig gewond.”

Die polisie het R5-, en 9mm-doppies op die toneel gevind.

“Die motief vir die skietery is onbekend en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” het Zwane bygevoeg.

Hy het gesê dit is nie duidelik of die skietery aan ʼn skietery vroeër die dag verbind kan word nie. ʼn Mercedes-Benz met vyf insittendes het in Petersweg gery en ʼn Volkswagen Polo het dit agtervolg. “Die insittendes van die VW Polo het op die Mercedes losgebrand en die bestuurder van die Mercedes het beheer verloor oor die voertuig.”

Zwane sê een persoon in die Mercedes is oorlede en vier persone is beseer en na ʼn hospitaal geneem. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en vier sake van poging tot moord. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Maroela Media het vroeër berig oor nog ʼn ongeluk in dieselfde straat. “ʼn Minibustaxi wat agter die Mercedes en die Polo gery het, het ʼn vragmotor reg van voor getref toe hy die Mercedes wou vermy. Vier persone, insluitend ʼn kleuter, wat in die taxi gery het, is op die toneel oorlede en verskeie passasiers is na ʼn hospitaal geneem. Nog vier persone het in die hospitaal aan hul beserings beswyk.” Die polisie ondersoek sake van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ator ·

Puik MM!

Ek sien dat jul beriggewing besig is om News24 se kwaliteit na te streef!

“Die polisie R5-, en 9mm-doppies op die toneel gevind.” ???

“Dit insittendes van die VW Polo…” ???

Sune van Heerden ·

Dagsê Ator

Ons vra om verskoning vir die nalatige foute wat ingesluip het.
Dankie dat jy ons daarop gewys het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.