Vyf dood in botsing

Argieffoto: ER24

Vyf mense, insluitend ʼn hoogswanger vrou, is dood en twee ander beseer toe drie motors Sondagaand in ʼn botsing in Vanderbijlpark betrokke was.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het kort na 23:00 op die toneel op die R553 aangekom. “Twee motors het aan die kant van die pad gestaan, terwyl die ander motor in die middel van die pad aangetref is.”

Paramedici het vier mense in een van die motors aangetref. “Drie mense het reeds aan hul beserings beswyk, terwyl die vierde persoon in ʼn kritieke toestand was.” Meganiese toerusting is gebruik om die vrou uit die wrak te probeer bevry. “Sy het egter tydens die proses aan haar beserings beswyk.”

Volgens Meiring is drie ander pasiënte op die toneel behandel. ʼn Vrou wat vermoedelik agt maande swanger was, is ernstig beseer en na ʼn hospitaal gehaas nadat sy op die toneel behandel is. Die ander twee pasiënte het matige beserings opgedoen en is ook na nabygeleë hospitale vervoer vir verdere behandeling.

“Die swanger vrou het later in die hospitaal aan haar beserings beswyk. Die presiese omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, word deur die relevante owerhede ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.