Vyf dood in Newcastle-botsings

Foto: ER24

Foto: ER24

Vyf mense is Saterdagoggend dood in twee afsonderlike botsings op die N11 in Newcastle, KwaZulu-Natal.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het op die N11 gery toe hulle op ʼn gru-botsing tussen ʼn motor en ʼn vragmotor afgekom het. Volgens paramedici het die botsing moontlik enkele oomblikke voor hulle aankoms plaasgevind.

“Drie mense was in die motor vasgekeer en het noodlottige beserings opgedoen. ʼn Vierde passasier, met kritieke beserings, is agter in die motor aangetref. Die liggame sowel as die beseerde passasier moes met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word. Die vierde passasier is kort hierna dood.” Die bestuurder van die vragmotor is nie beseer nie.

Volgens Vermaak was paramedici steeds op die toneel toe hulle ontbied is na ʼn ander botsing sowat 3 km verder weg. Met paramedici se aankoms op daardie toneel het hulle ʼn motor op sy dak in ʼn sloot langs die pad aangetref. “’n Bejaarde man is etlike meters van die wrak af gevind. Hy is vermoedelik tydens die ongeluk uit die motor geslinger.”

Vermaak het gesê die man het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Die presiese oorsake van albei ongelukke word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.