Vyf dood in Polokwane-ongelukke

Die ongelukstoneel op die N1 tussen die R81 en R101 in Polokwane. (Foto: ER24)

Drie mense is dood en drie ander beseer nadat ’n bakkie en ’n sportnutsvoertuig Maandagoggend reg van voor op die N1 tussen die R81 en R101 in Polokwane gebots en albei wrakke aan die brand geraak het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici het omstreeks 05:20 met hul aankoms op die toneel op die N1 twee brandende voertuie in die middel van die pad aangetref. Drie mense was in dié stadium in die wrakke vasgekeer terwyl drie ander buite die voertuie aangetref is.

Brandbestryders het die brande geblus waarna die drie slagoffers wat in die voertuie was dood verklaar is.

Die drie ander pasiënte, van wie twee kritiek en die derde in ’n ernstige toestand was, is op die toneel behandel voordat hulle na nabygeleë hospitale gehaas is vir verdere mediese behandeling.

Die bakkie wat elders in Polokwane omgeslaan het. (Foto: ER24)

Twee mans is vroeër vanoggend dood en ’n ander beseer toe hul bakkie elders in Polokwane omgeslaan het.

Die bakkie is omstreeks 03:00 op sy dak langs die pad aangetref. Twee mans het ’n ent verder op die toneel gelê terwyl ’n derde gedeeltelik onder die wrak vasgekeer was.

Die twee mans wat buite die bakkie aangetref is, het albei veelvuldige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Die vasgekeerde man is van onder die wrak bevry en met matige beserings na ’n hospitaal geneem.

Die toepaslike owerhede was vanoggend op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Miskruier

Kry almal in Limpopo n kode 10 lisensie?? N kode 8 is baie moeiliker.