Vyf dood in trompop botsing in Oos-Kaap

Foto verskaf aan Maroela Media

Vyf persone is Vrydagaand dood in ʼn trompop botsing in die Oos-Kaap.

Ao Moitheri Bojabotseha, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die ongeluk het op die R412 tussen Ugie en Mthatha plaasgevind, skaars ʼn kilometer van die Ugie-polisiestasie. ʼn Volkswagen Polo het ʼn vragmotor van PG Bison reg van voor getref.

Al vyf persone in die Polo, almal jonger as 30 jaar oud, is op die toneel dood verklaar. “Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Die polisie stel ondersoek in.”

Maroela Media verneem een van die persone in die Polo was ʼn matriekleerling aan die plaaslike hoërskool.

Volgens die departement van vervoer in die Oos-Kaap het die twee mans in die vragmotor nie enige beserings opgedoen nie.

Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag, het Bojabotseha bygevoeg.

Kol. Matshediso Gezani, bevelvoerder van Elliot, het haar meegevoel betuig met die familie en vriende van die oorledenes en motoriste gemaan om versigtig te wees wanneer hulle snags moet reis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.