Vyf dood in tweede noodlottige N1-botsing 

(Foto: Departement van vervoer in Limpopo)

ʼn Tweede noodlottige ongeluk binne twee dae op die N1-noord in Limpopo het die lewe van vyf mense geëis.

Twee motors het Donderdagaand reg van voor op die N1-noord buite Louis Trichardt gebots. Die bestuurder van die een voertuig het glo ʼn ander voertuig verbygesteek toe sy motor teen ʼn aankomende motor gebots het.

Die bestuurders van albei voertuie en drie passasiers is op die toneel dood verklaar. ʼn Passasier wat die botsing oorleef het, is met ernstige beserings na ʼn hospitaal in Louis Trichardt geneem vir verdere behandeling.

In ‘n afsonderlike geval is drie mense Woensdag dood en vyf beseer nadat twee motors op die N1-noord naby Polokwane reg van voor gebots het.

Die bestuurder van een van die motors het glo op ʼn sperstreep ʼn ander motor verbygesteek en teen ʼn aankomende motor gebots.

Mavhungu Lerule-Ramakhanya, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo, het gesê roekelose bestuur het moontlik in albei gevalle tot die botsings gelei. Sy het haar kommer uitgespreek oor roekelose gedrag wat lewens eis.

“Dit is nie aanvaarbaar dat ons elke dag met die nuus wakker word dat mense doodgemaak is deur roekelose bestuurders wat nie ag op die wet slaan nie.”

Lerule-Ramakhanya het haar medelye met die oorledenes se families betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Racheltjie Debeer

Miskien as die verkeerspolisie van hul agterente afklim en hul werk begin doen sal die ongelukke afneem. Sedert die algehele inperking verlede jaar het die sigbaarheid van verkeerspolisie drasties afgeneem, veral in Ekuhuleni.

melaney

Ongelukkig is dié tiepe bestuursvernuf ooral op ons paaie te bespeur. Ek bid elke keer voordat ek die pad moet vat en bid weer wanneer ek tuis kom om dankie te sê, al ry ek net een kilometer.

Chantel

Die tipe ongelukkig gaan meer gereeld voorkom, omdat die mense net eenvoudig nie meer respek het vir die padreëls nie.
As ek net kyk hoe die mense op ons dorp eenvoudig ‘n stopstraat verontagsaam, peins ek vir die dag wat daai persoon ‘n voetgang, kind of motorfietsryer moet dood ry. Ons jaag van punt A na B en het geen gewete. Ons ry al soos die taxi’s, roekeloos en geen genade vir die res.

Eugene

Maar domastrante ministers soos Mbalula dink dit gaan oor drank en dat n 100% verbod sal help. Nee, Fikile dit gaan oor gesindheid en die totale minagting van ander padverbruikers. Doen jou huiswerk ordentlik of klim in n kar en ry self en sien hoe minagtent taxis, trokke en sekere mense is vir die regte van ander padverbruikers

Louise

Ja daar is baie roekelose bestuurders, maar die ander probleem is ook onbevoegde bestuurders.
Bestuurders wat 70km/h op n snelweg ry en ek praat nie van vragmotors nie…
Gaan net klein bietjie af as dit moontlik is en gee die res kans, maar nee ons het 60kms laas in ons spieeltjie trug gekyk wat gebeur. Sit op on sewende rug werwel en luister KLIP hard musiek en ry net rustig aan. Ek dink dis ook een groot probleem waarmee die land sit.