Vyf dood ná skietery by Baaise bakkery

Argieffoto

Vier vermeende rowers en ’n polisiebeampte is dood ná hulle Maandagoggend tydens ’n gewapende rooftog by ’n bakkery in Port Elizabeth in die Oos-Kaap geskiet is.

Volgens brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het die polisie omstreeks 08:45 reageer op inligting dat ’n gewapende rooftog by ’n bakkery in die stad aan die gang is.

By die polisie se aankoms op die toneel het die verdagtes verskeie skote afgevuur waarna die polisie teruggeskiet en vier van die vyf verdagtes doodgeskiet het. Die vyfde verdagte het op die vlug geslaan en is steeds soek.

Die 31-jarige konst. Dwane Alistair Kemp is gedurende die skietery in die bolyf geskiet waarna hy na ’n hospitaal gehaas is. Kinana het bevestig Kemp het vanmiddag in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Die polisie het ná die voorval op drie vuurwapens op die toneel beslag gelê waarna dit na die ballistiese eenheid gestuur is om te bepaal of die wapens in ander soortgelyke misdade in die provinsie of elders gebruik is.

’n Saak van moord, poging tot moord en roof is aanhangig gemaak.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het Maandagmiddag haar medelye teenoor Kemp se naasbestaandes en kollegas uitgespreek. Ntshinga het ’n beroep op die polisie gedoen om die voortvlugtende verdagte spoedig vas te trek. “’n Aanval op ’n lid van die SAPD word ten sterkste veroordeel. Aanvalle op die polisie is ’n aanval op die staat,” het sy gesê.

Die polisie se 72-uur-aktiveringsplan is reeds in werking gestel waardeur die hulp van misdaadintelligensie, forensiese kundiges, speurders en taktiese spanne ingespan word om te verseker dat geen bewyse verlore gaan nie.

Enigiemand met inligting in verband met die voorval word versoek om die naaste polisiestasie of Stop Misdaad by 0860 010 111 in te lig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jepetto ·

Ja julle Maroela lesers wat altyd so negatief is oor die Poliesie kyk wat het nou gebeur hoop julle trek julle woorde terug Dis tragies dat poliesie lid sy lewe veloor

T ·

Is tragies ja. So hartseer. Die gemiddelde Maroela-leser is ook hartseer oor enige polisie wat sterf. In my agterkop voel ek steeds dat die polisie meer bekommerd is oor hul lede as oor die publiek wat vermoor word.

Ralph ·

Ons innige simpatie met die verlies van so ‘ n jongman. Vraag is net, dra polisie nie koeëlvaste baadjies wanneer hul betrokke is waar gewapende rooftog plaasvind nie.?

ferdi ·

Jou lewe vir vrot salaris waarmee jy ni eers oordentlik kan oorleef ni Top Bestuur sit in kantore en pay miljoene

NS ·

Ek het gisteraand laat gehoor dat die 5de verdagte dalk gevind is. Kan Maroela Media bevestig asseblief?

Anja van der Merwe ·

Dagsê NS,

Dankie vir jou kommentaar. Ons het bevestiging van die polisie ontvang dat die 5de verdagte nog nie aangekeer is nie.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Laetitia ·

Baie Jammer dat polisielid sy lewe verloor het. Innige simpatie aan sy familie.
Ek salueer die manne in blou vir hul beskerming van ons mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.