Vyf dood, vier beseer ná botsing

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Vyf insittendes van ʼn voertuig is Maandagmiddag op die N4 in Mpumalanga in ʼn botsing dood.

Nog vier mense, onder wie ʼn baba en ʼn kleuter, het geringe tot ernstige beserings in die ongeluk opgedoen.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici het om 13:50 twee motors in die middel van die N4 naby Poplar Creek aangetref.

“Twee volwassenes was in een motor vasgekeer, terwyl drie ander mense ʼn paar meter van die motor gelê het,” sê hy.

“ʼn Elf maande oue babaseuntjie en ʼn driejarige dogtertjie is ʼn paar meter weg van die tweede motor gevind, terwyl twee volwassenes op die toneel rondgeloop het.”

Paramedici het die pasiënte in die eerste motor ondersoek, maar bevind dat al vyf volwassenes reeds aan hul beserings beswyk het. Hulle is op die toneel dood verklaar.

“Die baba wat in die tweede motor was, was in ʼn kritieke toestand en gevorderde lewensondersteunende ingryping was nodig voor hy na ʼn hospitaal geneem is.”

Die dogtertjie en die twee volwassenes het slegs geringe beserings opgedoen, maar is saam met die baba na die hospitaal geneem.

Volgens Meiring is die besonderhede van die voorval nog onduidelik, maar plaaslike owerhede was op die toneel en ondersoek die saak verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.