Vyf mense is dood en ʼn sesde persoon kritiek beseer toe ʼn bakkie en ʼn motor Vrydagoggend op die R71 tussen Haenertsburg en Moria in Limpopo gebots het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is omstreeks 07:00 na die ongelukstoneel ontbied. “Hulle het die bakkie en die motor in die middel van die pad aangetref. Albei voertuie het erge skade in die botsing opgedoen,” het hy gesê.
By nadere ondersoek het paramedici gevind vyf insittendes van die motor, twee vroue en drie mans, het in die ongeluk omgekom. “Drie van hulle is in die voertuig aangetref, terwyl ʼn vierde persoon so ʼn paar meter weg van die voertuig af gelê het. ʼn Vyfde persoon is onder die voertuig aangetref,” het Meiring gesê.
Paramedici kon egter niks meer vir dié slagoffers doen nie en hulle is dood verklaar.
“’n Vrou is op die bestuurdersitplek van die bakkie aangetref. Sy het verskeie beserings opgedoen en was in ʼn kritieke toestand,” sê Meiring. “Paramedici kon daarin slaag om die vrou uit die wrak te bevry en het haar op die toneel behandel voordat sy na Mediclinic Tzaneen gehaas is.”
Die oorsaak van die botsing word ondersoek.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Oorsaak?? Blatante verontagsaming van basiese verkeersreëls.
IK ek stem. Dit is skokkend hoe mense by Magoebaskloof wat reeds ‘n gevaarlike pas is af en op jaag, oor die spoedgrens, oor sperstrepe, sonder ligte in mistige weersomstandighede. Met die mede padgebruikers is dit net genade as ‘n mens anderkant uitkom.
IK is doodreg, ek ken daai pad soos die palm van my hand, mense bly nie in hul baan om daai kronkels nie en beland in aankomende verkeer. Draaie is blind so jy sien eers die kerels as hul reg voor jou is.
Let op die sperstrepe en dan weet jy wat die waarskynlike oorsaak van die ongeluk is…..
Daar is GEEN wets toepassers nie . Daar is honderde verontagsamings van sperstrepe per dag op die stuk pad en daar word NIKS gedoen nie . Moordenaars agter stuurwiele !