Vyf doodgeskiet ná transitoroof

Swart rook borrel op in die lug van die brandende geldwa (Foto: Skermskoot)

Vyf vermeende transitorowers is Woensdagoggend dood toe ’n skietgeveg tussen hulle en die polisie in Boksburg in Gauteng uitgebreek het. Dit volg ná die rowers vroeër die dag op ’n geldwa in Dawn Park in Boksburg toegeslaan en dit beroof het.

Twee rowers is ook in hegtenis geneem.

Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die Valke, sê ’n onbekende aantal rowers het vanoggend omstreeks 08:30 op ’n geldwa in Dawn Park in Boksburg toegeslaan. Hulle het die voertuig aan die brand gesteek en met ’n onbekende bedrag geld van die toneel gevlug.

’n Video wat op sosiale media gedeel is, wys hoe dik swart rook van die brandende geldwa in die lug opborrel.

Volgens Muridili het die Sedibeng- taktiese reaksiespan en die spesiale wapen-en-taktiekeenheid van Ekurhuleni leidrade opgevolg wat hulle na die rowers in Klippoortjie in Carollaan gelei het. Hulle het daar in ’n huis weggekruip.

Een van die verdagtes word sit geboei in die polisievoertuig (Foto: Verskaf)

“Met die span se aankoms by die huis het ’n skietgeveg tussen die rowers en die polisie uitgebreek.”

Altesaam vyf van die rowers is tydens die skietery doodgeskiet terwyl twee in hegtenis geneem is.

Die polisie het op drie voertuie beslag gelê wat glo vanjaar in afsonderlike voorvalle in Springs, Midrand en Boksburg-Noord gekaap is. Daar is ook op vier ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie asook ’n onbekende bedrag geld beslag gelê.

Genl. Khehla Sitole, die nasionale kommissaris van die polisie, het die verskillende reaksiespanne geloof vir hul harde werk en samewerking om die transitorowers vas te trek.

“Met die feestyd om die draai, sal sekerheidswagte van geldwaens meer waaksaam moet wees, veral in Gauteng, waar transitorooftogte meermale voorkom,” het Sitole gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
msp

Ek dank nie vir cele nie maar ek bedank die SAP wat nog kan beplan en wakker is.

Sarel

Was goed gedoen. Geen negatiewe kommentaar oor die Polisie terug geskiet het nie. Kom waar is julle

agnes

Dit is so bakgat, komplimente vir die span wat so mooi opgetree het. Vir die RES van die boosdoeners vra ons dat die doodstraf terug mag kom. Geen genade vir vooraf beplande geweld en moord.

Belinda

Uitstekende werk deur mense wat nog reg en geregtigheid laat geskied.