Vyf dosente sterf in ongeluk

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Vyf dosente verbonde aan die Oos-Kaapse gemeenskapsonderrig en -opleidingskollege (CET-kollege) is Dinsdag in ’n motorongeluk dood.

Volgens Ishmael Mnisi, woordvoerder van Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, was die vyf vrouedosente saam in ’n motor wat met ’n vragmotor in ’n trompop botsing betrokke was.

Die dosente is geïdentifiseer as Vuyiswa Tenza, Nkatleheng Nkunjana, Mamokgeseng Motsatsi-Rajwili, Thabile Valashiya en Mapaseka Sekonyela. Hulle was ook finalejaarstudente vir ’n gevorderde diploma in volwasse onderrig en opleiding aan die Durban Universiteit vir Tegnologie.

Volgens Unathi Binqose, provinsiale woordvoerder van die departement van vervoer, het die ongeluk op die R56-pad tussen Mount Fletcher en Maclear in die Oos-Kaap plaasgevind.

“Die vyf insittendes van die sedan is dood terwyl die vragmotorbestuurder ongedeerd van die voorval afgekom het,” het Binqose bevestig.

“Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.”

Nzimande het sy hartseer en medelye oor die verlies van lewens in die ongeluk betuig.

“Ek is diep ontsteld oor die nuus van só ʼn verlies vir gesinne en ons onderwyssektor,” het die minister gesê.

Nzimande het die departement van hoër onderwys en opleiding opdrag gegee om te verseker dat die dosente se geliefdes en naaste kollegas die nodige ondersteuning en vertroosting ontvang terwyl hulle treur.

Die Oos-Kaap CET-kollege het Woensdag ʼn gedenkdiens vir die dosente gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vicky ·

Of ñ band het gebars,of meganies het iets verkeerd gegaan. Was jy daar?

Stephanus ·

Nie nodig om te vra of Rooivalk daar was nie. Wat Rooivalk sê is bloot n herhaling wat in die berig staan want hoe anders kan dit n trompop botsing wees as een van die voertuie nie aan die verkeerde kant van die pad was nie? Daar kan egter bespiegel word oor hoekom dit daar beland het. N bietjie meer geduld en minder venyn.

Yvonne ·

Tragies….dit is dalk weer n bewys van wat gebeur as verkeersreels verontagsaam word….wie ook al skuldig staan….dit bring soveel smart

anniekiewiet ·

Mag julle geliefdes troos van God kry in hierdie hartseer lewe vorentoe. Innige simpatie.

Niklaas ·

Werlik tragies. En hul so jonk nog. Sterkte aan al die naasbestaandes.

Casper ·

Ag dit is so verskriklik jammer om soveel leerkragte op eenslag te verloor.Wie gaan nou hulle skoene volstaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.