Vyf ernstig beseer toe ses trokke bots

Argieffoto: ER24

Die N3 buite Pietermaritzburg was Saterdagoggend vroeg gesluit weens ʼn ongeluk waarby verskeie vragmotors betrokke was.

Volgens paramedici het die ongeluk plaasgevind toe ʼn vragmotor op die N3 noord van Pietermaritzburg oor die hoofweg in ʼn suidelike rigting gerol en teen ʼn ligte motorvoertuig gebots het. Die ongeluk het naby die Peter Brown-afrit plaasgevind. Die ongeluk het tot gevolg gehad dat vyf ander vragmotors, wat elk ongeveer 100 m uitmekaar was, teen mekaar vasgery het.

“ER24 het ongeveer 01:50 op die toneel aangekom, saam met verskeie ander private en provinsiale nooddienste, en vyf mense aangetref wat in die ongeluk beseer is. Vier van hulle was ernstig beseer en een in ʼn kritieke toestand,” sê Ross Campbell, ER24-woordvoerder.

Hy sê die bestuurder van die ligte motorvoertuig was in ʼn kritieke toestand en is op die toneel behandel en na ʼn hospitaal vervoer deur een van die ander nooddienste op die toneel. “Die bestuurder van een van die vragmotors, ʼn 31-jarige man, moes met behulp van ER24-paramedici en die polisie se reddingsdienste uit  die voertuig bevry word,” sê Campbell. Die man was in die tweede ongeluk tussen die vyf vragmotors betrokke en paramedici het twee ure lank gespook om hom te bevry. “Hy is ernstig beseer en op die toneel behandel voordat hy na die Northdale-hospitaal vervoer is vir verdere behandeling,” sê Campbell.

Die drie ander pasiënte wat ernstig beseer is, is op die toneel behandel en deur ander nooddienste na hospitale vervoer.

Die plaaslike polisie en verkeersdepartement was op die toneel vir verdere ondersoek.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sean ·

Hoekom is daar nou elke dag vragmotor ongelukke??? Iets gaan aan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.