Vyf Gautengers vas oor kinderpornografie

Foto verskaf deur die SAPD

ʼn Gespesialiseerde eenheid van die polisie het vyf vermeende seksuele oortreders in Gauteng in hegtenis geneem tydens operasie “Moonlight”.

Die operasie is tussen 10 en 14 Februarie uitgevoer deur die polisie se Reeks en Elektronika-eenheid (SECI), ʼn afdeling van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings.

“Die operasie is deur die nasionale en Gautengse SECI uitgevoer in samewerking met die VSA se departement van nasionale sekuriteit (wat hul kennis in forensiese analise van misdaadtonele gedeel het), die nasionale misdaadintelligensie-eenheid vir kubermisdaad en die Gautengse forensiese maatskaplike dienste,” het kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die span het reageer op inligting wat van die kubermisdaadeenheid ontvang is en die oorspronklike ondersoek het inligting verskaf wat beamptes in staat gestel het om lasbriewe vir soektogte te bekom.

“Die soektogte is by verskeie eiendomme uitgevoer en vyf mans, tussen 30 en 62 jaar oud, is in hegtenis geneem vir die besit van grafiese kindermishandelingmateriaal (foto’s en video’s). Daar is beslag gelê op verskeie persoonlike rekenaars, hardeskywe, geheuestokkies, tabletrekenaars en selfone wat kinderpornografie bevat het,” het Muridili bygevoeg.

ʼn 30-jarige man, wat saam met sy ouers woon, is op 10 Februarie in Rietfontein in Pretoria in hegtenis geneem. Hy het in die Pretoriase landdroshof verskyn en is vrygelaat op borgtog. Sy saak is tot 12 Maart 2020 uitgestel.

ʼn 42-jarige man is ook op 10 Februarie in Claremont in Pretoria in hegtenis geneem. Hy is ʼn getroude pa van drie. Hy het ook in die hof verskyn en sy saak is tot 28 Februarie 2020 uitgestel.

ʼn 62-jarige man is op 11 Februarie in hegtenis geneem. Hy is ʼn getroude pensioenaris wat ʼn dagsorgsentrum besit wat deur sy vrou bestuur word. Hy het in die Roodepoort-landdroshof verskyn en sy saak is tot 17 Februarie 2020 uitgestel.

ʼn 42-jarige man, wat saam met sy ouers woon, is op 13 Februarie 2020 in Daspoort in Pretoria in hegtenis geneem. Hy het ook in die hof verskyn en sy saak is tot 8 April 2020 uitgestel.

ʼn 34-jarige man is in Kempton Park in hegtenis geneem. Hy is vantevore skuldig bevind op aanklag van verkragting en seksuele aanranding en is ʼn opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê wat op 15 Maart 2020 tot ʼn einde kom. Hy sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Kempton Park verskyn.

“Nog ʼn soektog is in Garsfontein uitgevoer. Die verdagte is nie in hegtenis geneem nie, aangesien daar nie enige materiaal op sy perseel gevind is nie. Beamptes het beslag gelê op sy elektroniese toerusting vir verdere ondersoek. Die verdagte het ʼn hangende saak uit 2020 vir die besit van kinderpornografie en bestialiteit. Uitspraak in dié saak sal na verwagting op 20 April 2020 gelewer word.”

Muridili het gesê die beskuldigdes wat reeds in die hof verskyn het, is vrygelaat op borgtog van R5 000. “Hulle name word weerhou omdat die polisie se ondersoek voortduur en die moontlikheid kan nie uitgesluit word nie dat kinders, wat in die materiaal verskyn, moontlik Suid-Afrikaners kan wees en hul identiteit moet dus beskerm word.”

Sy het gesê soortgelyke bedrywighede duur landswyd voort.

“Ons doen ʼn beroep op ouers om streng maatreëls toe te pas om seker te maak dat hulle kinders nie op die internet deur seksuele oortreders gelok word nie. Ouers moet verkieslik hul kinders se toegang tot die internet en sosiale media bestuur. Ouers moet ook kennis neem dat WhatsApp en Facebook ouderdomsbeperkings van 13 jaar het,” het sy gesê.

Enigiemand met enige inligting oor misdade wat teen vroue of kinders gepleeg is, word versoek om Crime Stop te kontak by 08600 10111 of deur ʼn wenk deur die MySAPSApp te stuur. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Magda ·

Vra ek ook – mense wat vir sulke misdade asook Moord verdink word en daar is bewyse met hulle inhegtenisneming GLO EK MOET AGTER TRALIES BLY TOT HULLE SAKE AFGEHANDEL IS. GEEN BORG.

marius ·

Hul vernietig onskuldige kinders se lewens en hul kry R5000 borg? Wat sal die regterlike beamptes se houding wees as dit hulle kinders of klein kinders is ?

Mathys ·

hulle kinders gaan na duur skole met GKTV en soms het hulle ook lyfwagte

antieke antie ·

en op borgtog vrygelaat….om nog misdade te pleeg en verdwyn??

Soanli ·

Waarom kry persone wat kinder pornografie besit borgtog? Die arme kinders in daardie digitale materiaal het nie n keuse of kans gehad om die seer of stukkend vry te spring nie

Wielspore ·

Sal graag wil weet watter kleuterskool in Roodepoort word na verwys aangesien ons kleinkind tans by ‘n kleuterskool in Roodepoort is. Die polisie behoort personeel te ondervra en ouers in kennis stel sodat die ouers kan uitvind of hulle kleuters misbruik is of daar fotos van hulle geneem is vir verspreiding.

Mathys ·

Dis die een wat betuur word deur ‘n 62 jarige wit man se vrou, hoeveel kan daar wees?

ES ·

Sluit toe en gooi die sleutel weg! Die ergste is, dit kan iemand wees wat jy ken – ‘n 62-jarige oupa of ‘n kollega wat ‘n pa van 3 is… mens kan niemand meer vertrou nie!

Kompas ·

Hoe kry ń persoon ń opgeskorte vonnis vir seksuele aanranding en verkragting? … Hierdie persone moet uit die samelewing verwyder word.

Erika ·

Kind\ers se lewens is verwoes, hulle onskuld is van hulle beroof, en die gemors kry borgtog, regtig? Sluit hulle toe, en gooi die sleutels weg, daardie kind\ers se lewens sal nooit weer dieselfde wees nie, danksy hierdie siek mense. Net die gedagte dat hulle vry rondbeweeg hier in Pretoria, maak mens kriewelrig. Hoeveel kind\ers se lewens moet nou nog verwoes word voor geregtigheid gaan seevier?

Melanie ·

Dis herhaaldelike misdadigers… ons sien mos nou weer, tronk is geen rehabilitasie sentrum nie… gooi die sleutel weg en vergeet van hulle!! ons kinders ly!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.