Vyf gesinslede sterf in huisbrand

(Argieffoto: Nico Strydom)

ʼn Ma het Maandagaand op ʼn grutoneel afgekom nadat sy haar kinders by haar ouerhuis gelos en vinnig winkel toe gestap het.

Met haar terugkeer het sy die huis in Meyerton in Gauteng in ligte laaie aangetref.

Hannes Steyn, brandweerhoof van die Midvaal-munisipaliteit, het gesê die nooddienste het om 20:43 ʼn oproep van die bure gekry dat die huis in Lynxstraat aan die brand is.

Met die brandweer se aankoms was die bure reeds besig om die vlamme met ʼn tuinslang te probeer blus. Hulle het kort tevore die nooddienste ontbied nadat hulle onraad vermoed het.

“Drie pasiënte is uit die huis gered terwyl dit nog gebrand het en nog twee pasiënte is gevind nadat die vlamme geblus is,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê.

Volgens Steyn is ʼn man en twee jong kinders, ʼn seuntjie en ʼn dogtertjie, deur ʼn venster van hulle onderskeie slaapkamers uit die huis gered. ʼn Ouer vrou en ʼn ses maande oue babaseuntjie het in die sitkamer gesterf nadat die vlamme hulle daar oorval het. Hulle was onherkenbaar verbrand.

“Paramedici kon ongelukkig niks vir die twee volwassenes en drie kinders doen nie en hulle is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.

Die oorledenes is glo ʼn egpaar, hul jong seun en hul dogter se twee kinders. Hul dogter en die twee kleinkinders het klaarblyklik in ʼn woonstel op dieselfde perseel gewoon.

Die vlamme is omstreeks 21:11 geblus. “Ons weet in die stadium wáár die brand onstaan het, maar nie wat dit veroorsaak het nie,” het Steyn gesê. “Dit is ʼn baie groot tragedie.”

Nooddienswerkers was vanoggend weer op die toneel en lede van die polisie se forensiese eenheid sal ook die huis vir leidrade fynkam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jacques Venter ·

Dit is beslis erg wat gebeur het, maar Dinsdag aand is ek verkeerd of is dit nou iets wat in die toekoms moet gebeur want volgens my kennis is Dinsdag aand eers vanaf 18h00 tot 00h00 vanaand. Gister vanaf 18h00 tot 00h00 was Maandag aand en vanaf 00hoo tot 06h00 was Dinsdag oggend ??????

Christel Cornelissen ·

Beste Jacques
Dit is inderdaad Maandagaand. Die berig is sedertdien gewysig en ons vra om verskoning vir die oorsig.
Groetnis
Christel
nms Maroela Media

Veronica ·

As hulle brandweer so treurig is soos Brakpan sn is dit nie vreemd dat hulle te laat daar aan gekom het nie! Mens bel een nr na die ander maar NIEMAND antwoord die telefone nie!!!!!!@

Moeg gekla ·

Veronica,
Gelukkig is die brandweer en munisipaliteit onder die “regte” party, en was die reaksie tyd verseker daar, en ongeveer 3km van die brandweerstasie af.

TDW ·

Hierdie is baie erg. Sterkte aan die familie. Daar is nie woorde nie.

Leatitia ·

Dit is baie tragies. Ek wil net graag weet hoekom word daar gepraat van
“pasiënte”? Dit maak nie sin nie. Klink of dit n hospitaal was.

Attie. ·

Leatitia, ek het ook nes jy gedink dat dit ‘n privaat kliniek is wat afgebrand het. As iemand uit n brand gered word is die persoon ‘n beseerde…. daarna word die beseerde eers ‘n pasient, indie hy opgeneem word in ‘n hospitaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.