Vyf geskiet tydens beplande rooftog

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Sewe mans is in hegtenis geneem nadat ʼn skietgeveg Donderdagoggend tussen polisiebeamptes en vermeende rowers by ʼn supermark in Ogies in Mpumalanga uitgebreek het.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het inligting ontvang dat die rooftog in die vroeë oggendure uitgevoer gaan word. Die provinsiale opsporingspan en taktiese reaksie-eenheid het op die inligting gereageer en ʼn groep gewapende mans by die supermark aangetref.

“Toe die mans die polisiebeamptes sien, het hulle onmiddellik op die polisie losgebrand en die polisie moes noodgedwonge terugskiet. Die polisie het daarin geslaag om sewe van die verdagtes vas te trek en op vyf van die groep se vuurwapens beslag te lê. Van die mans kon daarin slaag om te ontsnap,” het Hlathi gesê.

Hy het gesê vyf van die vermeende rowers is tydens die skietgeveg gewond en moes onder streng polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem word. Die ander twee is tans in polisieaanhouding. Daar is ook op die verdagtes se wegkommotor beslag gelê wat vol van dié soort toerusting was wat normaalweg tydens inbrake gebruik word.

Al die verdagtes sal tereg staan op aanklagte van poging tot moord, poging tot sakeroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Enigiemand met meer inligting oor die saak word versoek op lt.kol. Muntu Mbatha by 082 770 0877 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

valk ·

Is dit nie moontlik om beter detail te gee van die verdagtes, 7 verdagtes is aangekeer van die verdagtes het weg gekom, hoeveel het weg gekom, het die verdagtes net een voertuig gehad vir die 7 wat gevang is plus die wat weg gekom het, n beskrywing van die voertuig kan help, besig om ander sake van gewapende roof privaat te ondersoek waar 9 verdagtes betrokke was

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.