Vyf geskiet tydens geweld in Pta-middestad

Foto: Twitter

Vyf taxibestuurders is Donderdag in Pretoria se middestad geskiet terwyl nog ʼn taxibestuurder aangerand is.

Geweld het vroegoggend uitgebreek weens die voortslepende konflik oor taxiroetes. Kol. Noxolo Kweza, woordvoerder van die polisie, het gesê vyf taxibestuurders is op die hoek van Madiba- en Sisulustraat geskiet.

Die beseerdes is na hospitale geneem vir behandeling en niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Geweld het egter vanmiddag weer uitgebreek en ʼn taxibestuurder is deur ander taxibestuurders aangerand. Volgens Kweza is die beseerde taxibestuurder in ʼn hospitaal opgeneem. ʼn Man is intussen deur die polisie vir ondervraging ingeneem in verband met dié voorval.

Foto: Twitter

Kweza het ook bevestig dat twee taxi’s tydens die geweld aan die brand gesteek is. Die voorvalle van geweld hou verband met ʼn vete tussen die Menlyn- en Mamelodi-taxivereniging oor roetes.

Sheila Lynn Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, het intussen namens die stad die geweld ten sterkste veroordeel.

Senkubuge het gesê wetstoepassingsbeamptes is ontplooi om die situasie te monitor. “Die polisie en metropolisie gaan ook voort met hul ondersoeke na die voorvalle.”

Senkubuge het taxi-operateurs versoek om hulle van geweld te weerhou. “Geweld kan nie geskille oplos nie en stel die lewe van pendelaars en ander mense in gevaar.”

Volgens Senkubuge is die leierskap van die taxibedryf daar om geskille tussen operateurs op te los.

“Ironies genoeg is daar vroeër vandeesweek vergaderings gehou oor die Mamelodi/Menlyn-kwessie. Ek werk nou saam met rolspelers in die bedryf om die kwessie op te los aangesien dit nie so kan aangaan nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swannie ·

Nou ja, veroordeel die geweld ten sterkste en monitor dit …….probleem opgelos.

1+1 ·

Hulle veg oor texi-roetes, wat gaan gebeur as daar oor ‘n paar jaar oor lee winkelrakke en te min kos geveg gaan word.

Koos de Meyer. ·

Hulle is royal game. Maak soos hulle wil en skiet in die openbaar. Roekeloos, arrogant, en dink hulle is bo die wet verhewe. Barbarisme aan die orde van die dag hier in ons land, so onnodig.

Willie ·

Die stadsraad moet ook sommer vir ons se hoeveel is taxi lede betaal om sekere roetes nie te ry nie! Kom vertel ons….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.