Vyf gesoek na nóg ʼn plaasaanval

(Argieffoto: SAPD)

Vyf gewapende mans het Woensdagoggend ʼn egpaar, die vrou se pa en twee werkers op die plaas digby Zeerust in Noordwes oorval en beroof.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder, sê die mans het omstreeks 09:45 op die plaas aangekom. Hulle het twee plaaswerkers en een van hulle se vrou – wat in die plaashuis werk – oorrompel en vasgebind. Hulle het die werkers met vuurwapens gedreig en toegang tot die huis geëis.

Botma sê die rowers is die huis binne waar hulle ook die boer en sy vrou, asook die vrou se pa, vasgebind en met vuurwapens aangehou het.

“Niemand is ernstig beseer nie. Die vrou se pa het skrape aan sy gesig opgedoen,” het Botma gesê.

Botma sê die mans het die kluis se sleutels geëis, maar kon die kluis egter nie oopkry om die vuurwapens daarin te buit nie.

“Hulle is toe met die boer se bakkie daar weg. Tot dusver lyk dit net asof hulle selfone gebuit het.”

Boere en die plaaslike plaaswagte in die Zeerust- en Groot Marico-omgewing is ontbied en het onverpoos saam met die polisie gewerk om die bakkie en die verdagtes op te spoor.

Botma sê die bakkie is kort voor 11:00 verlate in ʼn veld gevind. Die verdagtes was skoonveld en het vermoedelik na ʼn nabygeleë informele nedersetting gevlug.

Hulle is steeds soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Sien die ding van suksesvolle anargie is die konstante uitvoering van beplande aksies wat chaos bewerkstellig. Gelukkig het ons ‘n bevrydings organisasie aan bewind wat terrorisme besryf onder die vaandel van demokrasie.

Friedrich ·

Duidelik was die rowers Suid Afrikaners, want niemand is vermoor nie.

ES ·

Gelukkig het niemand seergekry nie… hulle is darem maar arrogant om sommer in die middel van die dag te roof.

Dit wys net dat kriminele glad nie meer bang is nie. Gelukkig kon hulle nie die kluis oopkry nie.

Termiet ·

Daar broei iets, want hulle almal soek wapens, en al die boere wat aangeval word se wapens word gevat. Hoekom wapens en nie kos nie. En hoe weet hulle van die wapens en kluise. Is hulle besig om hulle self te bewapen met ons vuurwapens omdat hulle besig is om te mobiliseer?

LiveAndLetLive ·

As dit n groep misdadigers was wat plase teiken, maar dit is ladwyd – al vir jare.
Dit is beplan en dit word landwyd beplan.

Frank ·

Ek glo die psigiese letsels is BAIE erger as die fisiese letsels. Dit mord meestal misgekyk waar mense nie vermoor word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.