Vyf gesonde gewoontes vir die feestyd

Catherine Clark, eienaar van die aanlyn gesondheidswinkel The Harvest Table (Foto: Verskaf)

Baie van ons sien die vakansie as ʼn geleentheid om heeltemal te ontspan, wat beteken die oefenroetine is van die baan en ons kan soveel smul aan lekkernye as wat ons wil. In Januarie word ons egter weer deur ʼn vloedgolf van skuldgevoelens en spyt gepak.

Catherine Clark, eienaar en stigter van die gesondheidswinkel The Harvest Table, meen Desember is nie die tyd om heeltemal van jou goeie gewoontes te vergeet ter wille van pret, son en plesier nie.

“Die feestyd is ook nie noodwendig die beste tyd om gewig te wil verloor nie, maar dit beteken nie jy moet gewig optel nie. Weet egter sommer nou al, jy gaan in die versoeking kom om te veel te eet en minder te oefen.

“Tog wil jy ook nie voel of jy jou ontneem van al die heerlike kos en drankies nie; leer jouself dus hoe om die situasie beter te hanteer deur ʼn paar maklike gewoontes te gebruik om jou gesondheid te ondersteun,” sê sy.

Catherine gee hierdie vyf gesonde gewoontes vir ʼn gesonder feestyd:

  1. Moenie jou kalorieë drink

(Foto: Helena Yankovska/Unsplash)

Die meeste alkohol, sap en gasdrankies bevat hope suiker en kan aansienlik tot jou kalorie-inname bydra. Soms besef jy nie eers dat jy al jou derde drankie drink nie en dat jy besig is om leë kalorieë in te neem wat tot ʼn gewigstoename kan lei.

Kies eerder alternatiewe vir alkohol met lae kalorieë of ʼn nie-alkoholiese opsie, soos water of sodawater, gegeur met vrugte en kruie wat jou dors sonder die suiker sal les.

  1. Vermy eerder die tafel met al die versnaperinge

Die beste manier om verby die tafel te navigeer, is om eerder nie eers daar naby te staan en kuier nie. Dis jou versnaperinge op ʼn klein bordjie op en sluit jou skyfies hierby in. Volgens Harvard Health Publishing sal jy meer eet as jou aandag afgelei is of as jy nie op jou maaltyd fokus nie. Leer jouself om meer oplettend met kos en drank om te gaan deur eenvoudige vrae te vra soos: Is ek nog honger, of eet ek net omdat daar nog kos is?

  1. Groen groentes eerste

(Foto: @shotsoflouis/Unsplash)

Maak jou bord vol met groen blaargroente. Dit sal jou help om die versoeking te weerstaan om jou bord met voedsel belaai met ʼn hoë vet- en suikerinhoud. Vul die helfte van jou bord met gesonde groente en eet dit eerste. Dit sal voorkom dat jy te veel eet en boonop is daar ook dan minder plek vir die ryker kos.

Nog ʼn manier om dit te doen is om die 60-40-reël te gebruik: As jy hierdie feesseisoen by ʼn geselligheid is, kan jy 60% voedsame kos saam met 40% van jou gunstelinge eet. So hou dit jou op die gesonde pad en bly jy ook makliker by jou gesondheidsdoelwitte.

  1. Hou jou eetgewoontes in toom deur die dag sodat jy later kan ontspan

Die meeste aktiwiteit in die feesseisoen vind gewoonlik in die aand plaas en as jy weet jy gaan na ʼn geleentheid in die middag of aand, kan jy kleiner porsies deur die dag eet. Op hierdie manier kan jy jou energie-inname spasieer, verseker dat jy versadig is en kan jy ook jou aandete sonder skuldgevoelens geniet.

  1. Drink baie water

(Foto: Sven/Unsplash)

Water het geen kalorieë nie en dit hou jou gehidreer, gee ʼn balans aan jou liggaamsvloeistowwe en voorkom hardlywigheid. Boonop voel jy voller na ʼn glas water. Jou liggaam bestaan uit minstens 60% water wat jy nodig het vir funksies soos vertering en die vervoer van voedingstowwe; dit is dus goed as jy dit gereeld aanvul, veral in Suid-Afrika se warm somers.

Dra altyd ʼn waterbottel saam met jou. As jy tuis onthaal kan jy ʼn glashouer met water op ʼn plek plaas waar jy en jou gaste dit kan sien sodat almal maklik daarvan kan geniet.

“Die feesseisoen beteken nie outomaties dat jy teen Januarie ʼn ekstra paar kilogramme gaan hê om af te skud nie. Die belangrikste is om bedag te wees op jou gewoontes en ʼn bietjie voorbereiding sal verseker dat jy nie later spyt is oor jou voedselkeuses en die gevolge daarvan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.