Vyf in hof ná ontsnapping uit tronk

Die vyf beskuldigdes in die hof. Foto: SAPD

Vyf gevangenes wat verlede week uit ʼn maksimumsekuriteitgevangenis ontsnap en kort daarna weer in hegtenis geneem is, het Dinsdag in die Louis Trichardt-landdroshof in Limpopo verskyn.

Jabulani Mahlangu, Ntshengedzeni Manukha, Ntshavheni Munyai, Chris Faku en Justice Makamu is vyf van sewe gevangenes wat Donderdagaand ná ʼn oproer uit die Kutama Sinthumule-tronk ontsnap het. Brig Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak teen die vyf beskuldigdes is tot 23 November uitgestel vir nadere ondersoek.

Intussen het Phathutshedzo Funky Mugwena (20) en Netshiluwani Tshifhiwa Alycate (32) ook Dinsdag in die landdroshof verskyn. Mugwena en Alycate word daarvan aangekla dat hulle vier van die ontsnapte gevangenes skuiling gegee het. Mojapelo het gesê die twee is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat en moet weer op 23 November in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig tronkbewaarders by die Kutama Sinthumule-tronk het glo verlede week begin staak en die gevangenes het munt geslaan uit die situasie. “Hulle het op ʼn verwoestingstog gegaan, voorwerpe aan die brand gesteek en skade aan die eiendom aangerig. Tydens die chaos het sewe gevangenes ontsnap,” het Mojapelo gesê.

Faku (37), wat skuldig bevind is op aanklag van roof met verswarende omstandighede, is net ʼn dag ná die ontsnapping aangekeer. Mahlangu en Munyai, wat onderskeidelik tronkstraf uitdien op aanklagte van verkragting en moord, is Saterdag aangekeer. Manukha (37) van Thohoyandou, die vierde verdagte wat in hegtenis geneem is, is Saterdagmiddag in Waterval buite Louis Trichardt vasgetrek. Makamu (27) is Sondag in Musina in hegtenis geneem.

Die twee oorblywende gevangenes, Nyota Raphael (30) en Phathutshedzo Nemadodzi (34), is steeds op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.