Vyf in hof ná Standerton-rooftog

Die boere se bakkie waarop geskiet is. Foto: Verskaf

Vyf mans het Woensdag in die Standerton-landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof en poging tot moord ná hulle na bewering verlede week twee sigaretafleweringsvoertuie in Standerton in Mpumalanga beroof het.

Sers. Gerald Sedibe het gesê Simauki Johannes Swarahle (29), Themba Baloyi (32), Thulani Jeremiah Ngwenya (48), Obed Nembe (52) en Thabo Amos Mphelo (36) is almal Donderdag ure ná die rooftog, wat tot verskeie ander gebeure gelei het, in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig twee sigaretafleweringsvoertuie is Donderdag 29 Junie omstreeks 08:20 buite Standerton deur ʼn groep verdagtes van die pad af gedwing. Kort daarna was daar meer as tien swaargewapende mans op die toneel wat in vermoedelik vyf ander voertuie daar stilgehou het. Skote is afgevuur en ʼn veiligheidswag, wat die afleweringsvoertuie vergesel het, is in die arm gewond.

Die rowers het later op die vlug geslaan en meer as een voertuig gekaap waarmee hulle gevlug het. Nadat die polisie op die rooftog gereageer het, het ʼn hoëspoed-jaagtog ontstaan waartydens daar nog skote tussen die verdagtes en die polisie afgevuur is. Van die verdagtes het later in die bosse naby die dorp se buiteklub ingehardloop. Die owerhede het later die bosse aan die brand gesteek in ʼn poging om die verdagtes uit die ruigte te dwing.

ʼn Boer is ook in die proses in die gesig geskiet.

Sedibe het gesê ʼn grys Audi A3 is later dieselfde dag deur die SAPD se Johannesburgse blitspatrollie in Tembisa voorgekeer. Die polisie het die voertuig deursoek en ʼn haelgeweer en seinblokkeringstoestel in die voertuig gevind. Verdere ondersoek het die vyf verdagtes met die rooftog vroeër die dag in Standerton verbind en hulle is op die plek in hegtenis geneem.

Die saak is Woensdag tot 19 Julie uitgestel wanneer die beskuldigdes om borgtog sal aansoek doen. Hulle bly intussen in polisieaanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rina Pretorius ·

Jannie Kasselman en sy span is ysters daar in Standerton en tesame met die polisie is hulle ‘n wenspan. Mooi so manne, julle het ‘n baie goeie daad gedoen vir die gemeenskapsveiligheid.

Alida ·

Borg? Om te wat? Om net weer aan te gaan met hulle skelmstreke. NEE !!!!

Snoefels ·

Ek moet se daat koeel gate in die venster is nogal goed gekonsentreed op een plek, dis wat jy akkuraat noem haha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.