Vyf in hof ná wrede moord op paartjie

hof-hamer

Argieffoto.

Die vyf verdagtes wat in hegtenis geneem is nadat ‘n paartjie ontvoer, die vrou verkrag en albei vermoor is, het Woensdag in die Kagiso-landdroshof in Krugersdorp verskyn.

Staatsaanklaer Thabo Tlailane het aan landdros Jacob Mamabolo gesê die saak kan nie voortgaan nie omdat die verdagtes nie regsverteenwoordiging het nie. Die mans, tussen 22 en 26 jaar oud, word aangekla van moord, ontvoering, verkragting en roekelose en nalatige bestuur.

Jeanette Cindi (34) en haar vriend, Lungelo Buthelezi (31), is wreed vermoor toe hulle huis toe gestap het nadat hulle die aand gekuier het. Buthelezi is glo raakgery deur ʼn taxi. Die verdagtes in die taxi het glo gestop en gesê hulle sal die beseerde Buthelezi hospitaal toe neem.

Cindi, wat vyf maande swanger was, is herhaaldelik verkrag, gestenig en aan die brand gesteek. Buthelezi is ook gestenig en aan die brand gesteek.

Die verdagtes het Woensdag regsverteenwoordiging versoek, al het hulle vroeër aangedui dat hulle nie regsverteenwoordiging verlang nie.

Die hof was stampvol met familie, vriende en gemeenskapslede van Tshepisong in die weste van Johannesburg waar Cindi en Buthelezi gewoon het. Die saak is tot 20 April uitgestel.

Familielede het buite die hof met African News Agency gepraat en gesê hulle sukkel om die hartseer te hanteer. Rachel Koetle, Buthelezi se buurvrou, het gesê hy was ʼn stil man en dat Cindi en Buthelezi baie lief was vir mekaar.

Clowy Cindi, Jeanette se suster, het gesê sy sukkel om haar suster se wrede moord te hanteer. “Haar seun is 16 jaar oud en hy het soveel woede, ek moes hom vertel wat het met sy ma gebeur,” het sy gesê. Cindi is ná die voorval na ‘n hospitaal geneem waar sy die volgende oggend oorlede is. “As dit moontlik was, sou ek wou gehad het hulle moet gehang word. Hulle hoort nie in die gemeenskap nie, hulle is monsters.”

Jabulani Buthelezi, Lungelo se pa, het gesê sy seun het ʼn vyfjarige dogter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ange ·

Dis absoluut boos wat in die land aangaan.

Ek het nie eers woorde nie, kan nie eers begin dink wat die familie nou deurgaan nie.

Rus in vrede julle. Innige simpatie met die familie. Julie is in my gebede.

Lindie ·

Sjoe, hulle is besonders wreedvermoor. Wat gaan deur so persoon se gedagtes? Dit is uiters onmenslik. Mag hierdie familie vrede en rus vir hul siel vind.

Drikus ·

Waarom? Mag die ouens nooit ooit weer vrygelaat word nie. Mag andere tot inkeer kom voordat nog mense so seergemaak word. Ons huil. Ons rou.

AL ·

Hierdie jong moordenaars is verby boos. Die regstelsel moet ernstig kyk na swaarder vonnisse om hierdie gespuis doeltreffend te vervolg. Lewenslank sonder parool, 23 uur in n klein sel en pap en kool vir ete vd res van hul patetiese lewens.

Liza ·

Genade dit is wreed verby, mog hulle vir ewig in die tronk sit, ek wens ook hulle wil die doodstraf terug bring maar ja dit sal seker nooit ooit gebeur nie……Sterkte aan die familie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.