Vyf in hof oor drie moorde

Argieffoto

Vyf mans sal Vrydag weer in die hof verskyn op aanklag dat hulle drie mans in Hebron naby Ga-Rankuwa tydens ʼn boendoehof-aanval vermoor het.

“Die verdagtes is in hegtenis geneem op aanklag van die moord van drie mans, tussen 20 en 25 jaar oud,” het brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie in Noordwes, gesê. “Ongeveer 70 lede van die gemeenskap het op 6 April glo die slagoffers aangeval en doodgemaak.”

Die polisie is die oggend omstreeks 05:00 na die Kagisanong-sportgrond ontbied ná drie persone oënskynlik deur die gemeenskap aangeval is. “Volgens inligting tot ons beskikking het die gemeenskap die drie mans by hul huise gaan haal en hulle na die sportgrond geneem. Hulle is aangerand ná hulle van rooftogte in die Kagisanong- informele nedersetting beskuldig is.”

Die drie persone het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.

“Mandla Ngomane (43), Philip Mahlangu (47), Michael Nkoane (57), Thomas Mandima (66) en Mohau Jacob (66) het Donderdag in die Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding tot hulle op 17 April weer in die hof moet verskyn vir hul formele aansoek om borgtog.”

Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Sello Kwena, het die gemeenskap gemaan om met die polisie saam te werk en nie die reg in eie hande te neem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.