Vyf in hof oor gewaagde transitorooftog

Die toneel van die transitorooftog in Boksburg in Mei 2018. Foto: Verskaf

Vyf mans wat in hegtenis geneem is in verband met die gewaagde transitorooftog op 17 Mei in Gauteng waartydens agt mense gewond is, het Maandag in die Boksburg-landdroshof verskyn.

Die saak teen Paul Sibanda (28), Thato Gaopantwe (26), Colin Hadebe (42), Sibusiso Khumalo (34) en Thabo Molefe (32) is uitgestel tot 14 Junie wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Die mans het na bewering ploftoestelle gebruik om twee transitovoertuie oop te blaas terwyl die voertuie vanaf hul depot in Kempton Park na ʼn bank op pad was. ʼn Skietery het tydens die rooftog ontstaan en agt mense, insluitend veiligheidswagte en lede van die publiek, is gewond.

ʼn Video van die rooftog waarop gehoor kan word hoe die transitovoertuie oopgeblaas word en die skote klap, is wyd op sosiale media versprei.

Die toneel in Atlasweg. Foto: Verskaf

Die vyf mans is kort ná die voorval op die M2-hoofweg in hegtenis geneem toe die polisie hulle agternagesit het nadat hulle glo van die misdaadtoneel gevlug het. Daar is tydens hul inhegtenisneming op ʼn AK47, ʼn R4-aanvalsgeweer, ʼn pistool, ammunisie, plofstof en ʼn onbevestigde bedrag kontant beslag gelê.

Die mans staan tereg op aanklagte van gewapende roof met verswarende omstandighede, besit van onwettige vuurwapens, plofstof en ammunisie, opsetlike saakbeskadiging en poging tot moord.

Tydens die mans se eerste hofverskyning verlede week het hul regsverteenwoordigers aan die hof gesê die beskuldigdes is na bewering deur die polisie aangerand in ʼn poging om hulle te kry om skuld te erken of verklarings af te lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tammy ·

Hulle gaan aansoek doen om borg? Dis belaglik verby. Hoop nie hulle kry dit nie want dit sal een van die grootste skandes in regsgeskiedenis van SA wees. Hulle wou roof, skiet om te moor en vlug, dan verwag hulle borg? Hoe arrogant kan die spul raak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.