Vyf in hof oor ietermago

Die ietermago is na ‘n plek van veilige bewaring geneem. Foto: Verskaf

Vyf mans het in die Hoedspruit-landdroshof in Limpopo verskyn nadat ʼn lewende ietermago, wat ʼn bedreigde spesie is, vroeër vandeesweek in hul besit gevind is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die verdagtes, Mahlatsi Machimane (26), Robert Baloyi (52), Lucky Hlungwane (26), Elvis Mhlongo (36) en Martin Baloyi (26), het verskyn op aanklag van die besit van ʼn beskermde spesie.

“Die saak is uitgestel tot 3 Augustus wanneer die verdagtes na verwagting om borgtog gaan aansoek doen. Hulle bly in aanhouding,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die mans is Maandag teen 18:25 in die Hoedspruit-omgewing in hegtenis geneem.

“Die polisie het inligting ontvang dat ʼn voertuig met ʼn ietermago daarin van Acornhoek in Mpumalanga op pad na Hoedspruit is,” het Ngoepe gesê.

“Hulle het vinnig gereageer en die voertuig van die pad getrek. Die voertuig is deursoek en ʼn lewende ietermago is in die mans se besit gevind.”

Die mans kom van verskeie plekke in Limpopo soos Malamulele, Lulekani en Tzaneen.

Die ietermago is na ʼn veilige hawe in Hoedspruit geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.