Vyf in hof oor moord, korrupsie by Fort Hare  

Die Universiteit van Fort Hare. (Argieffoto: SA Gov News/Twitter)

Die minister van polisie en die nasionale polisiehoof sal Dinsdag die hofverskyning bywoon van vyf verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met moord en korrupsie by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap.

Volgens brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sal die verdagtes ook tereg staan op ’n klag van poging tot moord.

Minister Bheki Cele en genl. Fannie Masemola sal die hofverrigtinge bywoon en die media na afloop daarvan toespreek. Geen verdere inligting is in dié stadium oor die verdagtes bekend gemaak nie.

Dit volg ná Januarie se sluipmoordaanval op prof. Sakhela Buhlungu waarin sy lyfwag, Mboneli Vesele, dood is. Peet Roets, die universiteit se vlootbestuurder, is in Mei verlede jaar vermoor.

Die universiteit het vroeër vanjaar gesê sy uitvoerende bestuur en senior personeel word toenemend geïntimideer en met geweld gedreig terwyl pogings om die universiteit van korrupsie te bevry voortduur.

“Ons meen dat dit juis die sukses van die hernuwingsprojek is wat die terreurveldtog laat verskerp. Daarom is die raad vasbeslote om die uitvoerende bestuurskomitee en die visekanselier te steun in die belangrike skoonmaakveldtog en die heropbou van die universiteit,” het biskop Ivan Abrahams, voorsitter van die universiteit se raad, gesê.

Groot vordering is gemaak om die universiteit reg te ruk. Fort Hare het net meer as twee jaar gelede ʼn nuwe raad gekry nadat die universiteit geruime tyd onder raadsadministrasie was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frank ·

Die finansiele bestuur wette moet dringend verander met die klem op gevolgebestuur want omtrent orals waar our people betrokke is broei daar korrupsie uit.

Chris dupreez ·

Ek dink daar is toekennings van grade wat vir seker moet ondersoek word.

JohanR ·

Ja CDP hier is 30% nie eers nodig nie….net ‘n mooi rooi appel!

mattk ·

Hoop nie Cele gaan na die hofverrigtinge ‘n perskonferensie hou nie…. hy sukkel bietjie om met feite te kommunikeer. Hy hoop seker vir ‘n ere-doktorsgraad :-). Ek het nie geweet daar is nog mense wat by die universiteit studeer nie, almal verkies mos deesdae die universiteite in die groot stede.

Agge nee ·

Agge nee, die saak was in die hof, skuldiges is tronk toe, waarom nou weer ou koeie (geen woordspeling) uit die sloot grawe teen ‘n helse onkoste vir die belastingbetalers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.