Vyf in hof vir moorde in aftreeoord

Die Stella Londt-aftreeoord in Port Elizabeth. (Foto: Facebook)

Vyf verdagtes het Donderdag vlugtig in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn in verband met die moord op Agnes Elaine Burns (91) en Rosemary Langton (87) in die Stella Londt-aftreeoord in die stad in Oktober verlede jaar.

Nombebisi Slangveld (34), Mkhuseli Damaneti (30), Nyasha Manyange (33), Luxolo Kruisjan (31) en Akhona Mnxeba (28) staan tereg op twee aanklagtes van moord, twee aanklagte van roof, twee aanklagte van ontvoering en twee aanklagtes van sameswering om te roof.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het gesê die beskuldigdes bly in aanhouding tot hulle op 12 Februarie weer in die hof verskyn.

Aanvanklik is sewe verdagtes in verband met die moord vasgetrek. Twee van hulle het intussen skuldig gepleit en is reeds gevonnis. Panganai Mike Mabwe (27) het in November skuldig gepleit op aanklagte van geldwassery en is ʼn boete van R5 000 of 12 maande tronkstraf opgelê. Hy is verder tot drie jaar tronkstraf gevonnis waarvan drie jaar opgeskort is.

Craig Nyasha Madiro (20) het ook skuldig gepleit op ʼn aanklag van geldwassery en is tot drie jaar tronkstraf gevonnis waarvan drie jaar opgeskort is. Dié twee beskuldigdes was in besit van die gesteelde selfone.

Maroela Media het vroeër berig personeellede van die Stella Londt-aftreeoord het die twee vroue op 10 Oktober omstreeks 05:45 dood in hul onderskeie kamers aangetref. Die verdagtes het na bewering vroegoggend die perseel deur ʼn oop deur op die boonste vlak van die hoofgebou in die aftreeoord binnegegaan.

Hulle het Burns eerste oorval en sy is later op haar bed aangetref. Haar voete en hande was vasgebind, haar mond toegestop en haar kamer geplunder.

Langton se liggaam is in soortgelyke omstandighede gekry. Die nadoodse ondersoeke het gewys dat albei versmoor het. Daar was ook aanduidings dat hulle gewurg is.

Die polisie glo roof was die motief vir die moord. Krugerrande, luukse horlosies, goue ringe en ʼn trouring met ʼn edelsteen asook ander juwele en ʼn selfoon is gebuit.

Vyf verdagtes is dieselfde maand nog in hegtenis geneem in verband met die moorde.

Slangveld was ʼn versorger by die aftreeoord en was aan diens tydens die moorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harry ·

So besighede neem verdagte mense indiens om senior burgers se lewens op te pas????

JohanR ·

My….. hoe kyk jy dame’s van 87 en 91 in die oe en versmoor hulle. In die geval is dit al klaar “the punishment does not fit the crime!”

Charmain ·

Skuldig gepleit op n klag van “geldwassery”?????
Wat van die moorde wat gepleeg is????

Maureen ·

Jy word aangekla vir moord, dan pleit jy skuldig vir geldwassery en jy word daarvoor gevonnis? So is jy nou nie meer skuldig aan moord nie? Ek verstaan nou glad nie…

Regverdigheid ·

Hoe gebeur dit aftree oord is veronderstel om veilige plek te wees vir ond bejaarde mense… so SAD

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.