Vyf in hof wat glo polisiemotorhawe besteel

Motoronderdele wat teruggevind is (Foto: SAPD Wes-Kaap)

Vyf verdagtes is in hegtenis geneem in verband met diefstal by die polisie se motorhawe in Stellenbosch.

“Ná verskeie voorvalle van diefstal oor ʼn periode by die motorhawe aangemeld is, het lede van die Stellenbosch-misdaadvoorkomingseenheid en eksterne rolspelers ʼn verdagte Sondagoggend vroeg in hegtenis geneem,” sê kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die polisie.

Die verdagte het die ondersoekspan na vyf adresse in Cloetesville gelei waar verskeie motoronderdele, wat behoort het aan gesteelde voertuie en by die motorhawe gestoor is, gevind is. Dit sou vermoedelik aan die publiek verkoop word.

Vyf verdagtes sal binnekort in die Stellenbosch-landdroshof verskyn op verskeie aanklagte, waaronder sakeroof, diefstal van motorvoertuie en opsetlike saakbeskadiging.

In ʼn onverwante saak het die misdaadvoorkomingseenheid in Paarl-Oos ʼn lasbrief bekom om ʼn huis in Cornelissonstraat te deursoek. “Beamptes het hier beslag gelê op dwelmmiddels met ʼn geraamde straatwaarde van R5 000, alkohol en kontant wat vermoedelik die opbrengs uit misdaad is. ʼn 25-jarige verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van handel dryf met dwelmmiddels en alkohol.”

Beamptes het ook ʼn 32-jarige man in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ammunisie, dwelmhandel en die besit van vermoedelik gesteelde items.

Die beamptes het beslag gelê op die dwelmmiddels, ammunisie en ʼn onbekende bedrag kontant by Magnolia-woonstelle in Paarl-Oos.

Lede van die teenbende-eenheid in Belhar het Maandag inligting ontvang oor ʼn vuurwapen by ʼn perseel in Voltastraat. Dié verdagte word by Bellville-Suid aangehou. Die verdagte se woning is deursoek en daar is beslag gelê op ʼn 9 mm-pistool en 11 patrone. Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word vir analise.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Niklaas ·

Ek sal nie verbaas wees as dit later bekend word dat die beskuldigdes eintlik SAP lede of gewese lede is.

SjN ·

Deel van hul plig is om ook eie voorsiening vir pensioen aanvulling te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.