Vyf keer lewenslank en 988 jaar vir reeksverkragter

Argieffoto (Foto: Ichigo121212/Pixabay)

Die Pretoriase hooggeregshof het ʼn 33-jarige man van Nellmapius in Pretoria vyf lewenslange vonnisse en ʼn verdere 988 jaar tronkstraf opgelê op 72 aanklagte van verkragting, huisbraak en roof met verswarende omstandighede.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê regter Masopa het ook bepaal dat Sello Abraham Maponya se naam op die nasionale register vir seksoortreders bygevoeg moet word.

Maponya het tussen November 2014 en Januarie 2019 verskeie vroue in en rondom Pretoria verkrag. Sy jongste slagoffer was in daardie stadium 14 jaar oud.

In sommige gevalle het hy by die slagoffers se huise ingebreek, hulle eiendom gesteel en hulle verkrag – soms alleen en soms saam met medepligtiges.

Hy is op 20 Maart 2019 in Mamelodi in hegtenis geneem op aanklag van die diefstal van ʼn selfoon. DNS-toetse het hom met die sake van verkragting verbind wat oor vyf jaar by verskeie polisiestasies aanhangig gemaak is.

“Hy het aanvanklik skuld ontken op alle aanklagte, maar tydens die hofsaak het hy formeel skuld beken,” het Mahanjana bygevoeg.

Die 14-jarige slagoffer, wat nou 19 jaar oud is, het in haar slagofferimpakverslag gesê sy het ná die voorval gesukkel om in die klas te konsentreer en haar uitslae het daaronder gely. Nog ʼn slagoffer het gesê ses maande ná die voorval het sy positief getoets vir MIV.

Regter Masopa het gesê Maponya het geen respek vir vroue nie.

Staatsaanklaer adv. Pieter Coetzer het gesê Maponya is ʼn handboekvoorbeeld van ʼn reeksverkragter. “Die onskuld van slagoffers is gesteel en talle lewens verwoes.”

Mahanjana sê die NVG verwelkom die vonnis en loof die ondersoekspan vir hul werk wat tot ʼn suksesvolle vervolging gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Persheks Adri ·

Walglik verby! Hoop hy kry nóóit parool met die regering nie… Soek in die kop werklik en mense se lewens is verwoes!

Pieter ·

Hoor nou net op Kyknet nuus hy mag na 25 jaar aansoek doen vir parool. Wat help die lang vonnis dan?

SjN ·

Hang die uitvaagsel, Dan hoef hul ook nie die moeilike aantal jare straf somme te doen nie.

johann ·

Belaglik ! Mark Twain het gesê : ” The Law is an Ass ! “

Anel ·

Hoop nou net nie dit is samelopend nie wsnt dan kan hy binnekort aansoek doen vir parool, en dit mag hom mos nie gewier word nie, want wat van SY menseregte! Sleg ding. Hoop hy vrot in die tronk.

Tanniepetoors ·

Hoop hy sit in die tronk tot hy 100 word. Ellendeling.

Landras ·

Het ons nie al geleer hierdie tipes Hoort nie in die samelewing nie ? Hy gaan net voortgaan en dán as dit te laat is sal hulle weer besef . Ek stem vir doodstraf . Nou moet die belastingbetalers hom onderhou , kos , dak oor sy kop , té lekker .

Moeggeploeg ·

72 keer? En hy word nou eers gevonnis. Ek is seker hy was voorheen ook aangekla en gevonnis.

Hennie J ·

Ek sou ook dadelik pleit vir die doodstraf, MAAR ons het al klaar gesien die dubbel standaarde wanneer witmense tereg staan en ek vrees dit sal ook die geval wees met die ople van die doodstraf.
Wat ek wel voor pleit is bring terug die stelsel van dwangarbeid!!

Stofdonkie ·

Sy lewe gaan te kort wees om sy hele vonnis uit te dien. Dalk moet sy kinders maar help om die vonnis uit te dien

quartus ·

en na sowat 15 jaar sal hy uit die tronk stap ten spyte van die vonnisse.

Misky ·

Kyk net watse deurbraak het DNA toetse hier gedoen. Ons kan ongelukkig nie meer dieselfde toepas nie, te danke aan Hoedman wat slaap op die job

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.