Vyf lewenslange vonnisse vir reeksverkragter

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 33-jarige reeksverkragter is Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof vyf keer lewenslank en 122 jaar tronkstraf opgelê op 27 aanklagte van ernstige misdade.

Haarmans Nnogana Nakeme Mokoena-Aphane het voor regter Mogotsi verskyn in verband met die misdade wat tussen 2011 en 2014 in KwaMhlanga, Mpumalanga, gepleeg is.

“Hy is in Februarie 2014 in hegtenis geneem nadat hy ʼn 17-jarige meisie vroeër in Januarie verkrag het,” het kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Hy het in Dennilton in Limpopo weggekruip.”

Tydens die ondersoek het dit aan die lig gekom dat Mokoena-Aphane vroeër ook in hegtenis geneem is in verband met die verkragting op ʼn 14-jarige en 19-jarige sussies in September 2012. “Hy het hulle na ʼn plakkershuis in KwaMhlanga geneem en saam met ʼn medepligtige hulle herhaaldelik verkrag. Die medepligtige het verlede jaar gesterf. Die saak is voorlopig teruggetrek terwyl die hof gewag het op DNS-uitslae.”

Toe die uitslag bekend gemaak is, is die beskuldigde met nog vier sake verbind waar hy slagoffers tussen 17 en 28 jaar geteiken het. Die hooggeregshof het gehoor dat hy in hierdie gevalle ʼn vuurwapen gebruik het om sy slagoffers te dreig, en het hulle dan na ʼn bebosde gebied in Vezubuhle naby KwaMhlanga geneem waar hulle ook herhaaldelik verkrag is.

“In sommige van die voorvalle was die slagoffers se metgeselle saam met hulle en Mokoena-Aphane het hulle aangerand, beroof en met ʼn vuurwapen weggejaag,” het Hlathi bygevoeg.

Mogotsi het, voordat hy sy uitspraak gelewer het, daarop gewys dat die beskuldigde nie enige berou getoon het nie en dat hy vir die hof gejok het toe hy gesê het die slagoffers was sy meisies, insluitend die minderjariges. Hy het ook gesê die beskuldigde het onophoudelik die misdade bly pleeg en hy het geweet wat hy doen.

Hy het gesê “mense soos hy verdien nie om in ʼn gemeenskap te wees nie” en moet “permanent uit die samelewing verwyder word”. Mogotsi het dit benadruk dat sy uitspraak gebaseer is op die beskuldigde se persoonlikheid en in die belang van die gemeenskap.

Mokoena-Aphane is tot vyf keer lewenslank gevonnis op vyf aanklagte van verkragting en 40 jaar tronkstraf op ses aanklagte van verkragting. Hy is ook tot 52 jaar tronkstraf gevonnis op nege klagtes van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig, 14 jaar tronkstraf op drie aanklagte van gedwonge verkragting, 12 jaar tronkstraf op twee aanklagte van ontvoering en vier jaar tronkstraf vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.