Vyf liggame in man se agterplaas gevind

Argieffoto

Altesame vyf liggame van jong vroue is in die agterplaas van ʼn 25-jarige man van Masoyi naby Hazyview in Mpumalanga se huis gekry.

Thabiso Mndawe het al die plekke aan die polisie uitgewys waar hy die slagoffers glo verkrag en vermoor het, het brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, gesê.

Die polisie het die oorskot van drie van die slagoffers gister opgegrawe, nadat nóg twee lyke die afgelope twee weke gekry is.

Die opgrawings van die slagoffers se oorskot kom nadat die man erken het dat hy die vroue vermoor en in sy erf begrawe het. Die slagoffers is tussen 15 en 24 jaar oud. Die ontdekking het gevolg op die polisie se soektog na ʼn vrou wat in Mei verdwyn het en op 1 Junie vanjaar as vermis aangemeld is. Sy was glo die verdagte se vriendin, het Hlathi gesê.

Mndawe en die vrou het glo op sosiale media ontmoet. Die vrou is klaarblyklik na die verdagte se huis waar ʼn argument ontstaan het en sy vermoor is. Die man het haar daarna langs ʼn puttoilet in die agterplaas begrawe, het Hlathi gesê.

“Die polisieondersoek het na die verdagte gelei, maar hy het deur ʼn venster ontsnap toe die polisie na sy huis is om na hom te soek. Sy ma het hom later, op 3 Julie, na die polisiestasie gebring,” het Hlathi gesê.

Mndawe het reeds Vrydag in die rondgaande hof op Masoyi verskyn, waar hy van moord beskuldig word. Hy bly in aanhouding tot hy Woensdag na verwagting om borgtog gaan aansoek doen.

Mndawe het ná sy hofverskyning in ʼn verrassende wending erken hy het nóg ʼn vrou vermoor. Haar liggaam is Vrydagaand opgegrawe. Hy het daarna nóg drie plekke aan die polisie uitgewys waar liggame begrawe is. Dié liggame is gister opgegrawe, het Hlathi gesê.

Woedende inwoners het intussen sy huis aan die brand gesteek. Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiehoof, het die ondersoekspan vir hulle werk geloof. Hy het egter sy kommer uitgespreek oor die getal huise in die gebied wat afgebrand word nadat iemand van moord beskuldig word.

Wat die kwessie van die huise wat afgebrand word, vererger, is dat die huise dikwels nie aan die vermeende oortreders behoort nie, maar aan hulle ouers of familielede, het Zuma gesê. In sommige gevalle is die vermeende misdadigers ook deur die gemeenskap in boendoegeregtigheid vermoor.

“Dit is nie net onwettig nie, maar ook ʼn skending van geregtigheid, omdat belangrike bewyse in die huis wat afgebrand is, kon wees, wat vervolging dan onmoontlik maak,” het Zuma gesê.

Mndawe staan tereg op vyf aanklagte van moord, lykskending, die versteking van ʼn lyk, asook verkragting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Heksie ·

Ek kan nie glo mense kan so siek wees nie. Hoe kry n mens dit reg om iemand te verkrag, vermoor en sommer net gaan begrawe.

hercu ·

die standaard definisie van psigopaat is:

“‘n persoon met ‘n antisosiale persoonlikheidsversteuring, wat in aggressiewe, perverse, kriminele of amorale gedrag sonder empatie of berou manifesteer”

sal graag sy bewering hoekom hy die moorde gepleeg het wil hoor!

Sonja ·

In ander lande word so persoon geklasifiseer as n “serial killer” (reeks moordenaar), maar hier in SA is dit net nog n moordenaar. So allerdaags soos brood en melk….niemand lig eers n wenkbrou nie.

Zettie ·

…….maar tree dan vinniger op VOORDAT die huise ens afgebrand word!

Hanlie ·

Ek het net een vraag. Hoekom mag hierdie man aansoek doen vir borgtog?

ES ·

Hannelie – dit vra ek ook! Hy is mos ‘n gevaar vir die samelewing, hoe kan hy in aanmerking kom vir borg??

Johan ·

5 x mense dood en niemand het iets daadwerkliks gedoen om na hulle te soek nie? En nou loof hulle die polisie vir goeie werk, maar die moordenaar het (soos die berig lei), hulle geskok deur nog uitwysings te maak? Ek sal eerder sê swak polsie werk met ten minste vier van die moorde en gelukkig dat die moordenaar wel gepraat het! As hy nie gepraat het nie was die grafte nogsteeds daar, waar is die ondersoeke na vermiste persone geopen, wie moes dit ondersoek?? Sal graag wil weet!!

Michelle ·

Die is n psigopaat as die dood straf hier was moes hy dit kry hy is gewetenloos. Hy het ontsnap, verskrag, gemoor, lyke weg gesteek die polisie gaan wys waar die lyke is hy makeer niks daar is net bose mense wat boos gebore word hul gun niemand niks die was een van hulle hy wou net wys hy kon vroue verneder en nog die laaste lewe uit hul weg vat ‘n sadis. Hy moenie borg kry nie hy moet weg gesluit word mense moet vergeet hy bestaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.