Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het gesê die baba se ma het glo op 26 Oktober ʼn vrou met die naam Asanda in Polar Park ontmoet. Die vrou het glo gesê sy het nie plek om te slaap nie. Die ma het aangebied dat sy by haar huis in Kuyga kan oornag.
Volgens Janse van Rensburg het die verdagte die vrou se baba en haar sewejarige seun na ʼn winkel geneem om lekkers te koop. Die verdagte het glo vir die seun gesê om solank huis toe te gaan en dat sy later met die baba sal kom. “Die vrou het nooit met die baba teruggekeer nie en ʼn saak van ontvoering is aanhangig gemaak.”
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, konst. Timothy Minyayo, kontak by 071 475 1731 of Crime Stop by 08600 10111.