Vyf meegesleur, een verdwyn in see by Kleinmond

Kleinmond Foto: Stephan Reichert (Creative Commons via Wikimedia Commons)

Kleinmond Foto: Stephan Reichert (Creative Commons via Wikimedia Commons)

ʼn Man in sy 20’s het Saterdag vermoedelik verdrink nadat ʼn systroom hom by Kleinmond in die Wes-Kaap meegesleur het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê.

“Die NSRI is omstreeks 17:45 ontbied ná berigte ontvang is dat vyf mense in die see meegesleur is,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, in ʼn verklaring gesê. “Vier plaaslike mans, in hul vroeë 20’s, was in die water toe sterk systrome twee van die mans meegesleur het. Die ander twee vriende het hulle probeer help, maar slegs drie van die mans kon weer veilig op die strand beland. Die vierde man is verder in die see in getrek.”

ʼn Onbekende omstander het in die water ingegaan om die man, wat in daardie stadium ongeveer 150 meter van die kus af was, te gaan red. “Die omstander het die man bereik, maar al twee het toe in die moeilikheid beland en die onbekende man het nie ʼn ander keuse gehad as om homself te red nie. Hy kon veilig terugkom op die strand.”

Die oorblywende man het in hierdie stadium onder die water verdwyn.

Ondanks ʼn omvattende soektog deur nooddienste, die polisie en die NSRI was daar nog geen teken van die man nie. Die 20-jarige van Kleinmond het vermoedelik verdrink.

“ʼn Polisie-duikeenheid is ontbied om die soektog voort te sit,” het Lambinon bygevoeg. “Die polisie ondersoek die voorval.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.