Vyf ‘mees gesoekte’ kitsbank-opblasers vas

Argieffoto

Die Limpopo-polisie het vyf van die mees gesoekte verdagtes wat onder meer talle kitsbanke opgeblaas het, eindelik vasgetrek. Die vyf is glo deel van ʼn bende wat die afgelope paar maande lede van die sakesektor in die Sekhukhune-distrik in Limpopo geteiken het. Enkele van dié bendelede is egter nog op vrye voet.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê die verdagtes, tussen 34 en 45 jaar oud, is by hul huise aangekeer. Hulle is in hegtenis geneem op aanklagte van moord, die opblaas van kitsbanke en kluise, asook verskeie sakerooftogte.

“Verskeie items soos televisiestelle, klere, selfone en ʼn yskas wat glo die afgelope paar maande uit verskillende winkels en huise in die distrik gesteel is, is tydens die inhegtenisneming teruggevind,” sê Ngoepe.

Voorlopige ondersoek dui daarop dat een van die verdagtes reeds op borgtog vrygelaat is vir ʼn saak waarin hy glo ʼn kitsbank in die Sekororo-gebied digby Tzaneen opgeblaas het. Hy het hom glo in Oktobermaand aan dié misdryf skuldig gemaak.

“Die polisie ondersoek dit nou of die verdagtes moontlik met nóg misdade in die provinsie verbind kan word.”

Die verdagtes sal na verwagting eersdaags in die Sekhukhune-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die ondersoekspan wat die inhegtenisnemings uitgevoer het, geloof vir hul harde werk. “Ons sal seker maak die skuldiges ry aan die pen,” sê Ledwaba.

Die polisie sal ook voortgaan om die oorblywende verdagtes te soek. Mense met meer inligting wat tot dié verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan sers. Phaladi Makola by 082 749 2233, lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SomeOne ·

“skuldiges ry aan die pen”, een is dan al klaar op borg uit, nou hoe nou ?

petro ·

en wat gaan met hulle gebeur net mooi niks kom uit op borg sodat hulle maar net kan aangaan waar hulle opgehou het voor hulle gevang is die regstelsel is in my öe net n klug

Hennie J ·

Dis baie maklik. Met die wins uit jou “besigheid” trek jy die ondersoekbeampte en die aanklaer nader en siedaar, borgtog word nie doelmatig teengestaan nie, dit terwyl die landdros is in elk geval haastig is om op ete te gaan.

Porseleintjie ·

Dis goeie nuus. Maak dit egter verblydende nuus en sluit hulle toe vir goed, weg uit die samelewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.