Vyf miljoen etes in net 18 maande

Die organisasie het reeds miljoene etes moontlik gemaak. (Foto: SA Harvest)

Vyf miljoen etes afgelewer. Altesame 1 500 ton voedsame kos gered. En dit alles binne net 18 maande.

Die organisasie SA Harvest, wat hom beywer om heilsame kos wat vir die ashoop bestem is te herwin en bewustheid te skep om hongersnood in Suid-Afrika te beëindig, het dié besondere mylpaal vandeesweek bereik.

Die organisasie lewer sedert sy totstandkoming in Oktober 2019 gemiddeld 277 000 etes per maand aan gemeenskappe in Kaapstad, Johannesburg, Durban, die Vrystaat en Mpumalanga.

Dit het nederig begin met die eerste begunstigde, The Service Dining Rooms in Kaapstad, maar die projek het sedertdien uitgebrei na 80 gemeenskapsgesetelde organisasies landwyd – en dit alles danksy die ruimhartige voedselskenkers en finansiers wat die projek ondersteun.

Alan Browde, stigter en uitvoerende hoof van SA Harvest, sê die mylpaal van vyf miljoen etes is net die begin.

“Die mylpaal is maar een aspek van ʼn holistiese beskouing om hongersnood in Suid-Afrika te beëindig. Hoewel dit belangrik is om mense in die huidige krisis te voed, gaan slaap 19 miljoen mense elke aand honger. Ons besef dat liefdadigheid alleen nie hongersnood kan beëindig nie.

“Om dit te doen, moet ons met alle belanghebbendes saamwerk om die basiese oorsaak van hongersnood te verminder.”

Oorskot gered

Browde sê daar is ʼn oorskot goeie kos wat by boerderye, tydens vervaardiging, by groothandelaars, kleinhandelaars en in verbruikers se huishoudings vermors word.

Tot 10 miljoen ton kos word jaarliks in Suid-Afrika vermors – genoeg om elke mens in dié land wat kwesbaar vir hongersnood is, drie voedsame maaltye per dag vir ʼn jaar lank te gee.

SA Harvest versamel sommige van dié oortollige kos van skenkers voor dit bederf of op die ashoop beland. Die organisasie maak gebruik van ʼn vloot verkoelde vragmotors en ʼn innoverende tegnologiese platform wat help om die nodige logistieke oplossings te vind, die pakhuisbedrywighede te bestuur en die voedselskenkings na te spoor en op te volg.

Dié kos wat as’t ware gered word, word verpak in heilsame kospakke en voorsien aan goedgekeurde begunstigdes wat dit gebruik om etes vir kwesbare gemeenskappe voor te berei.

“Ons weet dit is moontlik om hongersnood te beëindig en dit is presies wat ons wil doen,” sê Browde.

Gidon Novick, lugvaart-entrepreneur en voorsitter van SA Harvest, sê dit is ongelooflik wat die span in so ʼn kort tyd vermag het. “Daar lê natuurlik nog baie werk voor om hongersnood te beëindig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mariana ·

Wat ‘n fantastiese inisiatief. So gaan niks net ashoop toe nie en minder mense ly honger. Wel gedaan

Jr ·

Gaan net om te wys dat die mense van SA baie meer bekwaam om dinge te doen as die so genoemde ” politikuste ‘ ooit sal doen. En weereens nie n woord geuiter wie mag kry en wie nie – soos dit veronderstel is te wees. Artikal sou heeltemal anders gewees as dit’ n govt projekt was

Boon ·

Lidmate van Ons NG kerk bloubergstrand gaan haal al jarelank Los by groot winkels en versprei dit. Ook het ons n kospakkkie projek met standard voedsame kos wat aan persone van enige ras, gender, en geloof gegee word. Maar ek weet ook daar is gemeentes en kerk wat nie sulke individue het met liefde en deernis kerke vir hul medemense nie. Ook is ek lid van Organisasies soos Afriforum, wat uitmuntende naastediens lewer. Mag hulle die lig sien.

Stof ·

Nou maak julle mos hierdie fiantroop se hart warm!
Mag daar oorvloedige guns op hierdie gestuurdes rus.

Karina ·

Wanneer ek bietjie meer kos gekook het as wat ek kan eet, gaan dit in ‘n bakkie, vrieskas toe. Die hou ek vir die tuinier wanneer hy weer kom werk. Hy neem dan heerlike kos saam huis toe vir sy gesin. Eierdoppe, teesakkies, tuin toe. Skille ens komposhoop toe. Alle plasties in 2 liter bottels gedruk tot vol. Gaan na ‘n verspreidings punt en in Grahamstad word huise met die vol gestopte bottels gebou. Warmer as die sink/cardboard plakkers huisies. So dra ek maar my deel by.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.