Vyf mislei moontlik oor bedrywighede by SAUK

Faith Muthambi. Foto: GCIS

ʼn Verslag wat deur die parlement se regsdienste-eenheid saamgestel is en vyf mense identifiseer wat die kommissie van ondersoek na die SAUK moontlik mislei het, sal Dinsdag aan LP’s voorgelê word.

Humphrey Maxegwana, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie, het Maandag gesê die verslag is reeds verlede week ter tafel gelê, maar LP’s het eers vandeesweek ʼn afskrif daarvan ontvang. “Ek het die verslag vandag [Maandag] ontvang en sal dit Dinsdag na die komitee neem vir sy insette,” het hy aan African News Agency (ANA) gesê.

“Die verslag is nie op die agenda nie, maar ek sal die komitee daaroor inlig sodat ons kan besluit oor ʼn pad vorentoe.”

Die verslag bevat ʼn uiteensetting van hoe Faith Muthambi, minister van kommunikasie, moontlik die komitee mislei het toe sy ontken het dat sy druk op SAUK-raadslede geplaas het om haar vriend, die ewigomstrede Hlaudi Motsoeneng, as die openbare uitsaaier se hoof uitvoerende beampte aan te stel. Indien daar bevind word dat Muthambi dit wel gedoen het, sal dit ʼn oortreding van die Wet op Magte en Voorregte wees.

Die parlement se regsverteenwoordigers het gesê daar word in die SAUK-ondersoekverslag melding gemaak van ʼn raadsvergaderingnotule van 7 Julie 2014 wat teenstrydig is met Muthambi se getuienis dat sy nie druk op die raad geplaas het nie.

James Aguma. Foto: SAUK

Mbulaheni Maguvhe, voormalige raadsvoorsitter, het ook moontlik gelieg toe hy aan die kommissie van ondersoek gesê het hy dra nie kennis van die sogenaamde SAUK 8-joernaliste se afdanking nadat hulle beswaar aangeteken het teen die redaksionele beleid van die uitsaaier nie.

Volgens die parlementêre regsverteenwoordigers het Muthambi gesê Maguvhe het op 5 Oktober 2016 ʼn voorlegging aan die portefeuljekomitee gemaak oor die arbeidsdispuut. Dit is moontlik ʼn aanduiding dat hy vir die kommissie van ondersoek gelieg het.

Een van Maguvhe se voorgangers, Ben Ngubane, is ook op die lys in die verslag, asook Theresa Geldenhuys, ʼn voormalige sekretaresse by die uitsaaier. Die regsverteenwoordigers het ook voorgestel dat daar ondersoek ingestel word na James Aguma, voormalige finansiële hoof van die SAUK, se getuienis aan die kommissie van ondersoek.

Hoewel die verslag dit stel dat geen van die vyf persone wat genoem word skuldig bevind is nie, kan ʼn moontlike boete of tronkstraf of albei persone wat valse getuienis gelewer het in die gesig staar.

Ben Ngubane, voormalige Eskom-raadsvoorsitter. Foto: Chantall Presence/ANA

363 doen aansoek vir SAUK-raad

LP’s sal ook Dinsdag begin om ʼn kortlys van 36 kandidate saam te stel met wie onderhoude gevoer sal word vir raadsposisies by die SAUK. Die portefeuljekomitee oor kommunikasie het 363 aansoeke ontvang vir die 12 posisies wat op die raad beskikbaar is.

ʼn Raad van vyf lede neem tans by die openbare uitsaaier waar nadat die vorige raad ontbind is as gevolg van die kommissie van ondersoek se bevinding dat daar onder meer ernstige bestuurprobleme en finansiële wanbestuur by die SAUK was.

Maxegwana het gesê politieke partye sal aanvoer wie hul voorkeurkandidate is en die komitee sal saam deur die aansoeke werk. “Die voorkeure sal gelei word deur die kaliber van elke kandidaat, hul relevansie ten opsigte van die poste wat geadverteer is en verskeie ander kriteria,” het hy gesê.

Die kortlys van 36 name sal op die parlement se webtuiste gepubliseer word waarna burgerlike organisasies en indiwidue vyf werkdae sal hê om hul insette oor die kandidate te lewer.

Na verwagting sal die komitee se vergadering tien uur lank duur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Die vervlakking van standaarde, morele waardes, etiek, verantwoordelikheid en hardwerkendheid spoel soos n vervloeking oor ons land. Dit het sy tentakels so diep in die samelewing ingeslaan dat die getygolf van vervlakking selfs met die gegradueerde jeug begin mors het. Om presies te wees spesifiek diegene wat in 2016 afgestudeer het. Alhoewel dit geensins impliseer dat daar nie uitsonderings is nie, het die vervlakking van standaarde dermate deurgesuur na die jeug, dat diegene wat vertroud is met lank gevestigde standaarde, onmiddellik die verskil kon agterkom. Die eerstejaar kerke by ouditmaatskappye wat hierdie jaar met hul klerkskap begin het, is oor die algemeen skuldig aan die volgende: Weinig respek vir gesag, swak werksetiek, gebrek aan ambisie, gebrek aan insig, geen dissipline en uittartend. Probleem is dat daar weinig aan gedoen kan word aangesien die leefwyse reeds gevestig is. Dis om van te huil. Mentors is n bedreigde spesie. Weereens kom alles terug na die verpletterende aanslag op Christelike waardes. Ek kan ongelukkig geen optimisme aan die dag lê vir die land se moerasleefwyse nie. Dis n skande en n klad wat ons aankleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.