Vyf moordverdagtes in Vrystaat gesoek

misdaadtoneel

Argieffoto

Die Bloemfonteinse polisie is op soek na vyf moordverdagtes in verband met twee verskillende misdaadvoorvalle die afgelope week.

Sers. Ikobeng Hlubi, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn winkeleienaar in Fase 2 in Mangaung was Vrydagaand besig om sy winkel te sluit toe hy deur drie gewapende mans oorval is.

“Die verdagtes het geld geëis en die winkeleienaar het dit aan hulle oorhandig. Nadat hulle die geld gevat het, het hulle op die winkeleienaar losgebrand. Hy is op die toneel dood. Die verdagtes het in ʼn wit Hyundai i20 gevlug,” het Hlubi gesê.

In nog ʼn voorval is ʼn 46-jarige man Donderdag deur twee mans in sy huis in Bloemanda oorval. Die verdagtes het glo geëis dat hy geld aan hulle oorhandig en toe hy weier, het hulle hom met ʼn brandende paraffien-verwarmer gegooi voordat hulle gevlug het. Die man het ernstige brandwonde opgedoen en is na ʼn hospitaal gehaas waar hy later oorlede is.

Die oorledene is intussen as Tumi Khaeeane, ʼn beampte van die Vrystaatse wetgewer, geïdentifiseer. Hlubi kon dit egter nie bevestig nie.

Mense met meer inligting oor die verdagtes in hierdie twee voorvalle, word versoek om die Kagisanong-polisiestasie by 051 403 1757 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.