Vyf motorfietsryers sterf ná fondsinsameling

Een van die motorfietse wat in die ongeluk betrokke was (Foto: Verskaf)

Altesaam vyf mense is Sondagmiddag dood toe motorfietse en ʼn bakkie in ʼn ongeluk op die MR559-pad, tussen Saldanhabaai en Langebaan in die Wes-Kaap, betrokke was. Al vyf oorledenes was motorfietsryers wat die dag aan ʼn fondsinsameling ten bate van die Saldanha-diereskuiling deelgeneem het.

Die egpaar, Andrew en Janet Wood wat aan die Meeulanders-motorfietsklub behoort het, Michael Hoppzak en sy verloofde Melissa Lotter, van die Guns and Roses-motorfietsklub, en Kleinjan van Zyl van die HOG Cape Town Chapter-motorfietsklub het tydens die ongeluk omgekom.

Motorfietsryers van verskillende motorfietsklubs aan die Weskus het die oggend om 10:00 by die FNB in Vredenburg byeengekom om die fondsinsameling met hul motorfietse aan te pak. Van daar het die motorfietse na Hopefield gery waar die groep ontbyt geëet het. Elke motorfietsryer wat aan die dag deelgeneem het, kon ʼn donasie vir die diereskuiling bydra.

Anton Tallie, president van die Meeulanders-motorfietsklub, vertel die Wood-egpaar het met hul Chevrolet-bakkie aan die geleentheid deelgeneem. Andrew is die oudpresident van die Meeulanders-motorfietsklub.

“Hulle het hul motorfietse reeds verkoop omdat hulle in die proses was om te emigreer. Dit is daarom dat hulle met ‘n bakkie aan die dag deelgeneem het. Hulle het by mense in Langebaan gebly en het ná die ontbyt, so rondom 15:00, teruggery Langebaan toe. Die ongeluk, waarby die ander motorfietsryers op hul motorfietse betrokke was, het op pad na Langebaan plaasgevind.”

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, was die groep motorfietse op pad na Saldanhabaai. Een van die motorfietse het teen die Wood-egpaar se bakkie, wat in die rigting van Langebaan gery het, gebots.

Volgens Tallie is die bakkie se voorkant diep ingeduik en lyk dit asof die bakkie van voor af getref is. Die bakkie het in die proses aan die brand geslaan en het omtrent heeltemal uitgebrand. Hoppzak, Lotter en Van Zyl was tydens die ongeluk op hul motorfietse. Hoppzak en Lotter, wat saam op ‘n motorfiets was, is op die toneel dood. Van Zyl is later in ‘n hospitaal in Vredenburg oorlede.

Die polisie was op die ongelukstoneel om ondersoek in te stel. Van Wyk sê ‘n saak van strafbare manslag word ondersoek.

Tallie vertel die Woods was goedhartige mense. “Andrew was ʼn groot man met ʼn baie klein en sagte hartjie. Ons gaan hom mis in die klub,” vertel hy. Die egpaar was jare lank betrokke by die motorfietsklub en was passievol oor motorfietsry.

Hoppzak en Lotter word oorleef deur hul tweejarige dogtertjie. Van Zyl word oorleef deur sy vrou en seun.

Op die Facebookblad, Fallen Rider Memorial Wall, het medelye vir die Wood-egpaar, Hoppzak, Lotter en Van Zyl ingestroom. “Julle het ʼn groot rol in die motorfietsgemeenskap gespeel en julle gaan baie gemis word,” lui die een inskrywing op die blad.

‘n Roudiens word eerskomende naweek vir hulle beplan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Mikki ·

Wat n tragedie! En dit met so n goed-bedoelde byeenkoms en fondsinsameling…..

Adam Adriaan ·

Baie jammer om van die tragedie te hoor. ‘n Motorfiets bly ‘n gevaarlike vervoermiddel. laar jaar ook een van my vriende verloor wat ook ‘n motorfiets entoesias was. Ook so ‘n frats ongeluk, met sy MF

MoederMamma ·

Ek verstaan glad nie wat gebeur het nie. Die Woods’e het in die teenoorgestelde rigting gery, maar hulle is ook deel van die motorfietsryers?

Foefie ·

My hart huil! Ek het nie die mense geken nie maar dis SO hartseer, so tragies.
My innige simpatie aan diegene wat agter bly. xx

Q ·

IMMENSE TRAGEDY! RIP brothers and sisters! Our thoughts and prayers are with you all. The Free Spirits.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.